’n Ongekwalifiseerde oudit-uitkoms vir die Vrystaatse departement van ekonomiese en kleinsakeontwikkeling, toerisme en omgewingsake (Destea) beteken dat die finansiële state van die departement in alle wesenlike aspekte gesond is.
So sê Thabo Meeko, LUR van dié departement.
Hy het die aansienlike verbetering in oudit-uitkomste van gekwalifiseerde ouditmening vir die boekjaar 2021/’22 tot ongekwalifiseerde oudit-uitkomste vir die 2022/’23 finansiële jaar, verwelkom.
Volgens Meeko word hierdie oudit-uitkomste gerugsteun deur geldige, betroubare en tasbare bewyse, en wys die department se toewyding om interne beheermaatreëls te verbeter en om die ouditeur-generaal van Suid-Afrika (OG) se aanbevelings te implementeer.
“Ons prys die personeel op alle vlakke en relevante belanghebbendes betrokke by die departement se pogings om te streef om aan rekeningkundige standaarde te voldoen wanneer dienslewering aan die mense van die Vrystaat versnel word,” het hy gesê.
Destea sal deurlopend die doeltreffendheid van risikobestuur en oudit-aksieplanne beoordeel.
“Ondanks begrotingsbeperkings, sal ons onverskrokke bly om ons mandaat te lewer, en die verbintenis tot die nakoming van goeie bestuur word in hierdie verband herbevestig,” het Meeko gesê.
Hy sê sy departement sal voortgaan om hard te werk om ’n skoon oudit te kry.