Welkom-Gimnasium se eerste rugbyspan het Goudveld-Hoërskool tydens die derby met 45-12 geklop. Foto: Kristy Kleynhans

Die Goudveld-Gimnasium derby van 2025 het die afgelope naweek vir opwinding en menige spanningsvolle oomblikke gesorg, soos wat die rugby-, netbal- en hokkiespanne van dié twee vooraanstaande skole van Welkom mekaar die stryd aangesê het.

Die gees van mededinging was reeds op Vrydag, 30 Mei, tasbaar tydens die jaarlikse optogte wat deur die strate van Welkom gehou is. Leerlinge, ouers en oudleerlinge het opgewonde gewag op die groot sportdag.

Op Saterdag, 31 Mei, het die hoofwedstryde op Goudveld-Hoërskool se sportgronde plaasgevind, waar besoekers van regoor die land heen opgedaag het om hul spanne te ondersteun.

Rugby: Welkom-Gimnasium het in die rugby oortuigend geseëvier en al nege wedstryde gewen. Die hoogtepunt was toe Gimnasium se eerste rugby-span Goudveld-Hoërskool se eerste span met 45-12 geklop het. Die speler van die wedstryd was Gimnasium se kaptein, Diekie Beuken.

Netbal: In die stryd op die netbalbaan het Gimnasium se eerste span Goudveld met 39-28 geklop. Altesaam het Gimnasium se netbalspanne ses wedstryde gewen, terwyl Goudveld vyf gewen het. Goudveld se tweede en derde spanne het onderskeidelik met 42-6 en 31-12 geseëvier. Thandaza Tshangela van Welkom-Gimnasium is as netbalspeler van die wedstryd aangewys.

Hokkie: Op die hokkieveld was die kompetisie straf. Goudveld se eerste meisiespan het met 4-0 gewen. Dié skool se seuns het die eerstespan hokkiewedstryd 4-1 gewen. Gimnasium het die tweede span wedstryd met 2-1 gewen. Goudveld se derde span het met 3-0 geseëvier. Twee wedstryde, die tweede meisiespan en die o.16A, het gelykop geëindig. In totaal het Goudveld drie wedstryde gewen, Gimnasium twee, en twee wedstryde het gelykop gespeel.

Ná ‘n dag vol sport, is dit duidelik dat die 2025 Goudveld-Gimnasium derby weer ‘n hoogtepunt op die plaaslike skoolsportkalender was.

You need to be Logged In to leave a comment.