Moleboheng Nthapo (18), wat ‘n 52-jarige man uit sy brandende sinkhuis in Thabong gered het, word bedank vir die dapperheid wat sy aan die dag gelê het. Die polisie het vir haar ‘n geskenkpak gegee wat skoonheidsmiddels bevat het. Van links is Thandisa Khalipha (wyksraadslid), ao Ntombi Twala, Nthapo en ao Tshidi Xaba.


In die gees van Ubuntu is ‘n 18-jarige meisie vereer toe sy ‘n slapende man uit sy brandende sinkhuis gered het. 

“Sy het sonder vrees of huiwering die lewe van ‘n ander persoon gered,” het Khalipha gesê.

Die raadslid van wyk 17, Thandisa Khalipha het hande gevat en saam met die Thabong SAPD se eenheid vir maatskaplike misdaadvoorkoming om ‘n man wat alles in ‘n sinkhuisbrand verloor het te help. Hulle het ook die dapper meisie, wat hom gered het, vereer.

Die heldedaad van Moleboheng Nthapo (18) toe sy  Mahahabane (52) sonder om te skroom uit sy brandende sinkhuis gesleep het, maak haar ‘n heldin in die gemeenskap se  oë.

Sers. Tshidi Xaba en sers. Ntombi Twala het Vrydag (08/07) die heldin besoek, terwyl Khalipha en ‘n groep gemeenskapswerkers die gebied waar die brand plaasgevind het, skoon te maak.

Tydens die besoek het die polisie hulde aan die heldin gebring en hulp aan die slagoffer belowe. Khalipha het ook belowe om die slagoffer te help om sy huis te herbou.

Nthapo, wat agter die uitgebrande sinkhuis woon, is deur die raadslid en die twee polisiebeamptes bedank vir die dapperheid wat sy aan die dag gelê het toe sy Mahahabane gered het. Hulle het vir haar ‘n geskenkpak met skoonheidsmiddels gegee.

Nthapo is tydens ‘n massavergadering in Thabong deur Khalipa tot ‘n held verklaar. Die raadslid het aan inwoners gesê dat wyk 17 geseën is om onbaatsugtige mense soos Nthapo te hê.

“Sy het sonder vrees of huiwering die lewe van ‘n ander persoon gered,” het hy gesê.

Volgens Nthapo het die brand Dinsdag, 5 Julie, omstreeks 19:00 ontstaan.

Sy het saam met haar suster agter hul eie huis gestaan en haar by ‘n vuur warm gemaak toe hulle sien dat ‘n brand in Mahahabane se sinkhuis oorkant hulle ontstaan het.

Nthapo sê sy het na ‘n buurman se huis vir hulp gehardloop, maar toe sy agterkom dat die sinkhuis erg brand en mense nie reageer nie, het sy die deur gaan oopskop, ingegaan en Mahahabane aan die slaap op sy bed gevind.

“Ek het hom na veiligheid uit die brandende hut getrek,” het Nthapo gesê.

Sy het gesê sy is bly dat sy Mahahabane se lewe kon red, maar sy was hartseer dat hy brandwonde opgedoen het.

Khalipa het die lede van Thabong SAPD Maatskaplike Misdaadvoorkoming bedank vir hul ondersteuning en hul vriendelike gebaar.

“Daar is mense met goeie harte daar buite,” het hy gesê.

Gemeenskapslede wat Khalipha wil bystaan, kan hom by 068-055-6718 kontak, of skenkings by die Thabong SAPD se kantore vir maatskaplike misdaadvoorkoming aflaai.

You need to be Logged In to leave a comment.