Antoinette Schoeman, Riebeeckstad:
Vandag loop my gemoed en gees oor van blydskap oor ons Goudveld se strate wat weer ’n slag skoon en netjies is.
Al ons vullissakke – wat 13 weke lank op die sypaadjies gelê het – is verwyder.
Baie dankie aan ons eerste burger. Hy kom beslis al die lof toe. Hierdie man het werklik deernis, integriteit en woema.
Ek voel dat hy ons Goudveld gaan regruk. Die inwoners verdien absoluut net die allerbeste.
Tog hou die slaggate in Craiblaan, Riebeeckstad, steeds ’n groot risiko in.
Hier moet jy kophou soos ’n dronk weeluis.
Daar is mense wat dink dit is ’n resiesbaan. Hulle jaag met ’n spoed om die slaggate en pyl reg op ander voertuie af.
Dit kan noodlottige gevolge inhou.
Ek het self amper in ’n oop mangat op die sypaadjie beland.
Gelukkig het ek darem kopgehou.
Ek weet hulle werk daar, maar dit is net asof hulle nie klaarkry nie.
Hierdie is ’n hoofpad en die verkeer is soms baie druk.
Herstel asseblief die pad so gou moontlik om ongelukke te vermy.
Skoolkinders loop langs – en in – die pad, en voertuie moet vir hulle uitswaai.
Ek glo en vertrou dat die bestuur van die Matjhabeng-munisipaliteit nou dringende aandag aan hierdie gevaarlike situasie sal gee.