Nog sluise is by die Vaal- en Bloemhofdam oopgemaak om bufferkapasiteit te skep in afwagting op goeie reënval wat nog voorspel word.
Quinton Jacobs, ’n voorspeller by die Suid-Afrikaanse Weerdiens se kantoor in Bloemfontein, sê matige tot swaar donderstorms kan bykans elke dag oor die sentrale binneland verwag word.
Hy sê ’n tropiese laagdrukstelsel wat oor die sentrale binneland inbeweeg en dan gaan stil lê, kan wydverspreide reën veroorsaak. Haelstorms kan ook voorkom.
Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement van water en sanitasie, sê vyf sluise is by die Vaaldam oop en die damvlak staan op 109,4%. Die invloei in die dam is 614 kubieke meter per sekonde (kumek), en die uitvloei 713 kumek.
Die Vaaldam was jare laas so vroeg in die seisoen so vol dat vyf sluise aan die begin van Januarie oopgemaak moes word.
Verlede jaar het die Vaaldam se vlak eers op 11 Februarie op 103% gestaan toe vier sluise oopgemaak is.
Nadat meer sluise op Dinsdag 4 Januarie oopgemaak is, is die Bloemhofdam se invloei nou 714 kumek en sy uitvloei 1 143 kumek, volgens Ratau.
Boere stroomaf van die Bloemhofdam het gewoonlik vloedskade wanneer die dam se uitvloei meer as 1 200 kumek is.
Teen Dinsdag (11/01) het die damvlakke in die Vrystaat soos volg gelyk:
- Gariepdam: 103%
- Vanderkloofdam: 105%
- Allemanskraaldam: 103%
- Erfenisdam: 102%,
- Tierpoortdam: R101%
- Krugersdriftdam: 106%
- Bloemhofdam: 102%
- Knellpoortdam: 95%
- Welbedachtdam: 87%
- Rustfonteindam: 100%
- Koppiesdam: 104%