Die Departement van Water en Sanitasie (DWS) doen ’n beroep op eienaars van ongeregistreerde damme om stiptelik die dam-registrasieproses te onderneem om te verseker dat dam-veiligheid voldoen soos deur die wet vereis word.
Dit kom toe die minister van water en sanitasie, Pemmy Majodina, ’n kennisgewing gepubliseer het waarin gevra word vir die registrasie van bestaande damme met ’n veiligheidsrisiko, soos opdrag gegee deur die Nasionale Waterwet.
Die registrasieproses het ten doel om die veiligheid van damme te verseker en risiko’s vir die publiek, eiendom en waterbronne te verminder.
Eienaars van damme wat aan die kriteria voldoen, moet hul registrasie status verifieer en indien hulle nog nie geregistreer is nie, die vereiste vorms by die DWS indien.
Die departement beskou ’n dam met ’n bergingskapasiteit van meer as 50 000 m³ (50 megaliter) water, en met ’n vertikale muurhoogte van meer as 5 m, gemeet vanaf die stroomaf-basis.
Wally Ramokopa, hoof van spesialiseenheid: Damveiligheidsregulasie binne die departement, het bygevoeg dat die DWS ’n massa-multimedia-veldtog uitrol.
Hy sê die doel is om bewustheid oor die belangrikheid van damregistrasie te verhoog. Die departement wil verseker dat alle damme met veiligheidsrisiko’s aan standaarde voldoen om potensiële skade aan mense, eiendom en die omgewing te verhoed.
Die damregistrasieveldtog is ook daarop gemik om ’n akkurate databasis van dameienaars en veiligheidsnakoming te bou vir effektiewe regulering en risikobestuur.
Dameienaars word verplig om hul besonderhede op te dateer indien reeds geregistreer, en registrasie- en klassifikasievorms in te handig indien nog nie geregistreer nie.
Vorms kan van dws.gov.za/dso afgelaai word of by die naaste departementele kantore afgehaal word.
Die departement doen ’n beroep op alle dameienaars om onmiddellik op te tree. Nakoming is nie net ’n wetlike vereiste nie, maar ’n kritieke stap om die veiligheid van gemeenskappe te verseker, die omgewing te beskerm en waterbronne vir die toekoms te verseker.
Vir meer inligting oor dam-registrasie kontak die spesialis-eenheid van die dam-veiligheidsregulasie by damsafety@dws.gov.za, Mokgadi Modipane by 082-802-7092, of Makgano Tlaka by 083-412-2649.