In Fil. 3:10-12 lees ons:

. . .ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds syne gemaak het.

Die lewe vra net soos die Comrades, wat onlangs gehardloop is, inspanning en voorbereiding om ’n sukses te maak van my lewe.

Alles in die lewe is ’n keuse: dit wat ek doen, wat ek gaan word of hoe ek wil lewe. Die lewe is ’n wedloop; ’n wedloop van besluite, aanmoediging en geliefdes wat my help om ’n keuse vir Christus te maak.

In my lewe gaan daar ’n paar opofferings wees. Die Woord van God is my riglyn en die Gees van God help my daarin. Hierdie keuses is nie net maanskyn en rose nie.

Hoe hanteer ek uitdagings in die lewe?

Gaan ek weg hardloop met besluite, gaan ek dit op my eie doen, gaan ek volhard of gaan ek tou opgooi. Niks in die lewe kom vanself nie, die lewe is nie ’n gelykpad nie en daarom moet ek in die woord van God geoefen wees en moet die gees my aanspoor om te volhard. Die wedloop van die lewe kan kort, maar ook lank wees. Kinders, jongmense of ouer mense kan ons vooruit gaan. Die dood kan ons lewenspad kruis. Daarom moet ons met afwagting leef om die oorwinnaarskroon te dra.

Ons het mekaar nodig en aanmoediging help ons om opnuut te dink om in die geloof te volhard. Hoe wonderlik as ek en jy kan sê my pa, my ma of my vriend was vir my ’n voorbeeld of ’n inspirasie met kindskap. God vra van ons om so te leef dat mense jou navolgers word, want ons is almal navolgers van Christus.

Die eindpunt hou vreugde in. Christus het die wedloop voltooi. Sy geboorte, sy bediening, sy kruisiging, sy dood maar ook sy opstanding was deel van sy oorwinning.

  • Die lewe is ’n keuse. Hou jou oë op Jesus gevestig. Hy is die begin en einde van ons lewenswedloop. Wees ’n wenner in Christus. Heidi Mclaren is ’n jeugleraar aan die NG kerk Bedelia.

You need to be Logged In to leave a comment.