Antoinette Schoeman, ’n leser van Vista, is bekommered oor onverskillige taxibestuurders. Foto: Verskaf


Antoinette Schoeman, Riebeeckstad:

Dit is met ’n gees van woede dat ek hierdie brief skryf.

Kan daar nie iets gedoen word aan die taxi’s wat mense af- en oplaai voor die Goldfields Mall en Woolworths nie?

Vandag was die derde keer dat ’n taxi teen my geskuur het om so vinnig moontlik voor die sentrum te kan kom.

Hulle het geen respek of genade vir ons mense wat die sentrum besoek nie.

Hulle parkeer voor die ingange en ons moet vir hulle wag wanneer trollies goedere ingelaai word.

Daar is staanplekke aangebring by die sentrum en Woolworths vir die af- en oplaai van mense wat taxi’s gebruik.

Hoekom maak hulle nie gebruik daarvan nie? Dit is ’n toetery heeldag.

Ek is al amper raakgery deur ’n taxi en dit kon ernstige gevolge gehad het.

As jy met hulle op ’n mooi manier praat, ignoreer hulle jou en bied nie eens ’n verskoning aan nie.

Ek stel voor dat die sekuriteits­personeel hierdie taxi-bestuurders beheer en kontroleer.

Die verkeersafdeling behoort ook toesig te hou en die oortreders moet beboet word.

Daar sal dringend aandag aan die groot probleem gegee moet word.

Ek glo en vertrou dat ons eerste burger hierdie aangeleentheid sal aanspreek en maatreëls in plek sal stel om hierdie soort onverant­woordelikheid summier uit te skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.