Vrystaters moes die naweek hul storie ken om al vier wiele van hul voertuig op die provinsie se haglike paaie te hou.
Talle ongelukke weens oorstroomde paaie en slaggate het van Vrydag (20/05) af plaasgevind toe dit wyd oor die provinsie begin reën het.
By Allanridge dreig ’n riooldam buite die Nyakallong-woonbuurt om ook oor die berugte R30-pad te stoot.
Dié pad is al meer as ’n maand gesluit nadat ’n natuurlike waterpan in Januarie ’n paar kilometer verder oor die pad gestoot het. Motoriste word genoop om ’n ompad, die S-86, te gebruik.
Chaos het oor die naweek in die gebied geheers. Desperate padgebruikers, wat onwettig die R30-pad gebruik het, het in diep modder op die skouers van die pad vasgeval.
Die Vrystaatse departement van paaie het vroeër die pad met grondwalle versper om mense te verhoed om dit te gebruik.
Mense ry nou om die grondwalle en sit in die modder vas.Motoriste wat die aanbevole S-86 gebruik het, moes 17 km op die glibberige grondpad ry. Plek-plek is die pad bykans onbegaanbaar, met dele wat soos ’n moeras lyk.
Padgebruikers, veral dié met ’n kleiner voertuig, het in die modderige grondpad vasgeval of beheer oor hul voertuig verloor en in die veld ingery.
Op die R34-pad, tussen Kroonstad en Welkom, was daar Vrydagaand minstens vier ongelukke nadat die pad oorstroom en mense in die donker die diep plate water getref het. Dié pad, wat tot onlangs nog in ’n goeie toestand was, verswak daagliks en nuwe slaggate is orals te sien.
In die Bultfontein-omgewing is grondpaaie die naweek oorstroom en vir verkeer gesluit.
Inwoners van Thabong sukkel ook om hulle huis te bereik omdat strate onder water is.
Die meeste plekke in die Noord-Vrystaat het 16 mm tot 30 mm reën gemeet. Aangesien die grond danksy ’n goeie reënseisoen versadig is, oorstroom paaie vinnigen deurweekte grondpaaie word binne ’n ommesientjie onbegaanbaar.
Volgens kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, is heelwat ongelukke teen Sondagoggend aangemeld, maar geen sterftes nie.