Hoop vir die Week – Heidi McLaren, jeugleraar aan die NG kerk Bedelia:
Ons Hemelse Vader het vir elkeen van ons ’n groot droom.
God is altyd jou bron van hoop. Hierdie bron kan nooit opdroog nie.
Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting (Jeremia 29:11).
“Hooptimiste” weet altyd dinge eindig nie hier nie – daarom dink hulle elke dag aan die hemel.
Die hemel is God se heel beste.
Dit is waar ons Hemelse Vader sy verfkwaste uithaal en die mooiste prentjie teken.
In die hemel sal alle vreugdes, plesier, skoonheid en goedheid vir ons ’n leeftyd word.
Hoop maak die onmoontlike moontlik. Dit is die verhaal van die Ou en Nuwe Testament.
God is die God wat die onmoontlike doen.
Hooptimiste gee nooit moed op oor ’n situasie of oor ’n mens nie, want by God is die onmoontlike moontlik.
Hy het dit finaal kom bewys toe Hy vir Jesus uit die dood opgewek het.
Nou weet ons die onmoontlike is God se werk.
Ons wat ons hoop in God plaas, weet ons kan altyd van ’n antwoord deel wees.
Terwyl ’n pessimis altyd deel van die probleem is, altyd ’n verskoning het, het die hooptimis altyd ’n plan omdat God een het.
Die hooptimis sê hoewel iets moeilik is, is dit baie moontlik. Die pessimis sê dit is dalk moontlik, maar baie moeilik.
Ons is omvou deur God se liefde en genade. God is met ons. Hy is altyd by jou.
Die krip, die kruis en die leë graf van Jesus sê dat Hy altyd by ons is.
Daarom kan ek en jy die wêreld waterpas in die oë kyk.
God is hier, en van alle kante is ons omvou met Sy liefde en genade.
Hy is Jesus. God met ons, God in jou.
Amen.