’n Drie-en-dertig-jarige verdagte is deur die polisie, AfriForum-buurtwag en CSS Security aangekeer. Gesteelde kruideniersware en drank was nog in sy besit, maar sy slagoffer se selfoon kon nie opgespoor word nie. Photo: iStock


’n Misdadiger wat ’n 91-jarige vrou op Donderdag 25 April in haar huis op Bothaville oorval het, het sy rieme styf geloop nadat AfriForum se plaaslike buurtwag, die polisie en CSS Security saamgewerk het om dié verdagte blitsig aan te keer.

Die slagoffer, woonagtig in Theronstraat, is Donderdag teen omstreeks 14:00 oorval toe die verdagte haar voordeurklokkie gelui het en vir ’n tuinslang en water gevra het. Die verdagte het egter die deur oopgeforseer, die inwoner met ’n skroewedraaier gedreig en haar hande agter haar rug met ’n herlaaierkabel vasgemaak. Hierna het hy voortgegaan om haar selfoon, sekere kruideniersware en drank te steel. Hy het van die toneel af gevlug sonder om die vrou verder te beseer.

Die voorval is dadelik aan die polisie, AfriForum-buurtwag en CSS Security gerapporteer. Die 33-jarige verdagte is kort daarna deur die drie instansies aangekeer. Die kruideniersware en drank was nog in sy besit, maar die selfoon kon nie opgespoor word nie.

Die verdagte het Vrydag 26 April op aanklag van huisbraak in die hof op Bothaville verskyn.

“Hierdie blitsige inhegtenisneming is weereens ’n bewys van die sukses wat deur samewerking tussen die gemeenskap, owerhede en ondernemings bewerkstellig kan word,” sê Alta Pretorius, streekskoördineerder van AfriForum se Mooirivier-tak.

Sy waarsku inwoners om paraat te wees en nie aan vreemdelinge toegang tot eiendom te gee nie. “Kwesbare lede van die gemeenskap word dikwels geteiken met versoeke om hulp, maar dit word telkens met voorbedagte rade gedoen. As ons op en wakker is, sal ons in baie gevalle daarin slaag om misdadigers se slinkse planne te fnuik,” sê sy. Sy raai mense aan om eerder hul plaaslike buurtwag of die polisie te kontak indien hulle onraad vermoed.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Untitled post 265989
    Vista E-edition 10 July 2025