Geslagsgeweld het ’n man lewenslank in die tronk laat beland nadat hy sy vrou verlede jaar vermoor het.
Op 23 Augustus omstreeks 08:00 is wyle Mating Sinah Lebelonyana, ’n 29-jarige vrou wat in die Kromkuil-plaas in die distrik Bultfontein woonagtig was, aangerand is en veelvuldige steekwonde oor haar liggaam en op haar gesig opgedoen het.
Sy het daarin geslaag om na die plaashuis te ontsnap, maar haar man het haar agtervolg en haar verder met ’n voorwerp gesteek en haar kop met ’n brandblusser geslaan. “Sy het op die grond geval en geweldig gebloei. Die plaaseienaar is wakker gemaak en hy het twee van sy werknemers opdrag gegee om haar na die hospitaal in Hoopstad te neem,” sê kapt. Stephen Thakeng, woordvoerder vir die Lejweleputswa-polisie.
Thakeng sê hulle was sowat 500 m van die plaas af toe hulle op polisie beamptes in ’n gemerkte polisievoertuig afgekom het.
Thakeng bevestig die vrou is dood verklaar. ’n Saak van moord is aanhangig gemaak. Haar man is op die toneel in hegtenis geneem.
Die saak is toegewys aan speursersant Oupa Tshabalala van die Bultfontein-speurdienste wat borgtog suksesvol teengestaan het.
Samuel Mzangwa (33) is skuldig bevind op aanklag van moord en oortreding van ’n beskermingsbevel.
Die beskuldigde is op 10 Junie deur die hooggeregshof in Welkom lewenslange tronkstraf, sonder enige parool, gevonnis. Vir die oortreding van die hofbevel het die man twee jaar tronkstraf gekry.