’n Bekende in die Bronville-gemeenskap en een van die stigterslede van dié nedersetting buite Welkom, is op 14 Augustus oorlede.
Frans Davids (83), of Oom Kranie soos hy alombekend was, het letterlik om die tafel gesit toe dit besluit is om die woonplek vir die bruin gemeenskap in Welkom te stig omdat daar in daardie stadium vir dié groep ’n behoefte was aan hul eie woonplek.
Destyds kon bruin mense net in agterplase in Welkom woon, en sodra hulle kinders gehad het, moes hulle verhuis.
Bruin mense is ook nie in Welkom se bevolkingsregister aangeteken nie.
Phillip Saunders het ’n komitee gestig om ’n opname van bruinmense in die Goudveld te doen.
Davids en wyle Adam Swarts het toe van dorp na dorp en plaas na plaas gery om ’n sensusopname van die aantal bruin mense in die omgewing te doen.
Harry Oppenheimer het ook gehelp dat die gemeenskapsaal op die dorp gebou is.
Saunders het toe vir Davids gevra om ’n brief aan die destydse minister van kleurlingsake, Michiel Coenraad Botha, te skryf en melding te maak van hul lewensomstandighede en behoeftes.
Botha het aan die eerste stadsklerk van Welkom, Koos van Zyl, geskryf om ’n vergadering te belê.
Op dié vergadering is besluit dat bruin mense van die omgewing hul eie woonbuurt gaan kry. Bronville is toe in Junie 1967 gestig.
Met die viering van Bronville se 40ste bestaansjaar in 2007 het Davids gesê: “Ons kan met trots terugkyk op die aanvoorwerk wat hierdie mense 40 jaar gelede vir die inwoners van Bronville gedoen het. Sonder hul deursettingsvermoë sou Bronville nooit ’n werklikheid geword het nie.”
Hy het by Murray and Roberts gewerk en daarna by Gallison.
In 1980 het hy sy eie besigheid, Bronville General Dealers, begin en het voortgegaan om in Bronville te woon.
Oom Kranie laat drie dogters, 12 kleinkinders en vyf agter-kleinkinders na.
Sy begrafnis is Saterdag (26/08) om 09:00 by Sanderstraat 587, en dan om 10:00 in die ARC-kerk in Bronville.