Drie jong broers neem vandag om 14:00 in die NG kerk in Merriespruit, Virginia, afskeid van hul ouers ná die grusame padongeluk wat hul lewe geëis het.
Die familie van Rian en Nienke Engelbrecht (albei 37) van Odendaalsrus het Donderdagoggend ná ’n soektog uitgevind die twee is Woensdagaand in ’n ongeluk dood.
Die egpaar het die aand in Welkom gaan pizza eet voordat hulle na hul huis in Odendaalsrus is, het Mieka Steenkamp, Nienke se suster, gesê.
Hul drie seuns, Leelyn (16), Yughan (12) en Zian (7), wou nie saam met hul ouers uitgaan nie en het by haar ma, Susan Pawson, in Hennenman oorgeslaap.
Steenkamp sê hulle het die volgende oggend die seuns in Welkom afgelaai by ’n sentrum waar hulle tuisonderrig kry.
Pawson en Nienke het saam ’n naelsalon in Welkom besit, en hulle het na Nienke begin soek toe sy nie by die salon opdaag nie.
“Ons het gehoor ’n Volkswagen Golf was die vorige aand tussen Welkom en Odendaalsrus in ’n ongeluk betrokke en het by ’n skrootwerf na die kar gaan kyk,” sê Steenkamp.
Hulle het gesien dit is die egpaar se motor en die polisie het hulle oor die paartjie se dood ingelig.
Steenkamp sê die gesin was baie geheg aan mekaar en daar was veral ’n hegte band tussen Rian en sy seuns.
“Nienke en Rian het vir mekaar geleef. Hulle was nie ryk aan aardse goed nie, maar hulle was nederige mense en skatryk aan liefde.”
Sy sê die egpaar was onafskeidbaar en die seuns was alles vir hulle.
Rian het as ketelmaker by Axis Mining gewerk en was lid van die myn se protospan.
Hy was ’n enigste kind en word ook deur sy ma, Gerda Mocke, oorleef.
Benewens haar ma, suster en seuns, word Nienke ook deur ’n broer, Hugo-Jan, en haar pa, Marchant, oorleef.
Kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, sê die Volkswagen Golf het reg van voor teen ’n vragmotor gebots nadat die bestuurder van die motor ’n rondloperbees getref en toe beheer oor die Golf verloor het.
“Die motor het onder die vragmotor vasgesit en aan die brand geraak,” sê Thakeng.
Die bestuurder van die vragmotor kon betyds uit die kajuit kom, maar die egpaar is in die motor dood.
“Rondloperbeeste in ons gebied veroorsaak gereeld ongelukke,” sê Johan Terblanche van AfriForum.
Hy sê die beeste behoort meestal aan mynwerkers en polisielede. Die diere loop snags rond omdat daar nie nou weiding is nie.
“Die vee is honger en wei op die padreserwes waar die gras eerste groen word,” sê Terblanche.
Hy sê daar is ook elke naweek ongelukke op die N1 in die omgewing van Winburg.
Terblanche meen die beeste behoort geskut te word, maar daar word nie opgetree nie.