Rassie Erasmus (54)Foto: Verskaf

Rassie Erasmus (54), ’n staatmaker in die Vrystaat se brandweer- en nooddienste, is Vrydag (04/02) oorlede. Francois Klaassen, wat jare lank sy vriend en kollega was, se skrywe is ’n huldeblyk aan hom:

Hy was ’n goeie offisier, leier en mentor vir die meeste brandweerpersoneel in die Goudveld.

Die verlies aan sy kennis laat ’n groot leemte in die brandweerdiens.

Rassie is op 26 Augustus 1967 in Welkom gebore, waar hy ook grootgeword het.

Hy het homself op 19 Augustus 1991 as brandbestryder by die Welkom-brandweerdiens aangesluit.

Later is hy tot stasie-offisier bevorder, en was hy vir operasionele dienste verantwoordelik.

Rassie het ook met opleiding gehelp, en was by Matjhabeng-brandweer se afdeling vir brandveiligheid betrokke. Hy het op verskeie geleenthede as afdelingsbeampte waargeneem.

Hy was ook die sameroeper van Angels of Mercy, wat uit lede van verskeie nooddienste in Welkom bestaan het.

In Februarie 2021 is lewerkanker by hom gediagnoseer, waarna hy chemoterapie ondergaan het. Teen September het die kanker na sy borskas versprei. Hiervoor het hy bestraling ontvang.

In Desember is sy stembande aangetas toe die kanker na sy keel versprei.

Rassie word deur sy twee dogters, ’n skoonseun, ’n skoondogter en twee kleinkinders oorleef. Sy vrou, Jessica, is in 2019 oorlede.

Die brandklokkehet die laaste keer vir Rassie Erasmus gelui. Hy het die brandweerdiens verlaat om in die diens van God te wees. Ons salueer hom.


  • Die verassingsdiens sal Saterdag (12/02) om 11:00 in die Ou Apostoliese Kerk se sentraal-gemeente plaasvind. Dit is op die hoek van Elizabeth Eybers- en Van Wyk Louwstraat in Jan Cillierspark geleë.

You need to be Logged In to leave a comment.