Die veldbrand teen die R30 tussen Virginia en Theunissen.Foto: Verskaf


’n Vliegtuig moes Sondag­oggend ingespan word om ’n verwoestende veldbrand, wat Vrydag teen die R30-pad buite Virginia begin het, in bedwang te bring.

Die brand het Sondag (02/10) aan weerskante van die pad gewoed.

“Ons het van Vrydagaand af met die brand gesukkel, en Sondagoggend moes ons ’n vliegtuig huur omdat dit diere op die Goldfields Ranch bedreig het…”

“Ons het van Vrydagaand af met die brand gesukkel, en Sondagoggend moes ons ’n vliegtuig huur omdat dit diere op die Goldfields Ranch bedreig het,” sê Johan Terblance van die Goudveld-brandbestrydingsvereniging.

Hy glo meer as 1 000 ha se weiveld het afgebrand, maar sover bekend was daar nie ander verliese nie.

Daar was ook kommer dat die brand in die rigting van die N1 en die Willem Pretorius-natuurreservaat kon versprei.

Terblanche sê die vliegtuig, wat vir tussen twee en drie uur gebruik is om die brand te blus, kos R25 000 per uur.

“Provinsiale rampbestuur moes die betaling magtig, maar uiteindelik het ons so lank gewag dat die grondeienaar self betaal het. Hopelik sal hy die koste van sy versekering kan eis…”

“Provinsiale rampbestuur moes die betaling magtig, maar uiteindelik het ons so lank gewag dat die grondeienaar self betaal het. Hopelik sal hy die koste van sy versekering kan eis,” sê hy.

Terblanche sê die brand het in ’n stadium in die beboste gebied teen die Doringrivier inbeweeg. Hy sê dit is baie klipperig daar, en daar is soveel plantmateriaal in die rivier dat boere nie die brand kon blus nie.

Die vliegtuig is toe ingespan, terwyl boere op die grond verseker het dat die Goldfields Game Ranch se leeukampe veilig is.

Die vliegtuig is gebruik om die voorpunt van die brand te blus en dit het die werk vir brandbestryders op die grond vergemaklik, sê hy.

“Daar was ongelooflike samewerking, mense het van Theunissen, Odendaalsrus, Ventersburg, Winburg, Virginia, Hennenman en Welkom gekom…”

“Daar was ongelooflike samewerking, mense het van Theunissen, Odendaalsrus, Ventersburg, Winburg, Virginia, Hennenman en Welkom gekom.”

Private maatskappye soos Hazquip het ook gehelp om die brand in bedwang te bring.

“Oral waar jy om jou gekyk het, het jy net mense gesien wat help…”

“Oral waar jy om jou gekyk het, het jy net mense gesien wat help.”

Hy sê daar was ses watertenkwaens wat elk tussen 19 000 en 34 000 liter water kan vervoer. Hulle is gebruik sodat boere hul vuurvegters se watertenks vinnig kon hervul. Dit kos vir almal baie geld en ons het nie ’n brandweer wat kan help nie, sê hy.

Terblanche sê die paaie­departement is verantwoordelik om te help wanneer ’n brand teen ’n pad ontstaan, maar dit gebeur nie.

Hy sê daar was verskeie groot brande die naweek in die Vrystaat. Brande is by Brandfort, Virginia, Hennenman en Junctionsdrift, naby Aldam, aangemeld.

Dit is nou baie warm en droog en as die wind waai, is dit baie moeilik om ’n brand in bedwang te bring, sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Untitled post 265989
    Vista E-edition 10 July 2025