Brand saai verwoesting

Matjhabeng brand, mense sterf, honderde miljoene rande gaan in vlamme op en die Matjhabeng-brandweer is nêrens in sig nie.


Matjhabeng brand, mense sterf, honderde miljoene rande gaan in vlamme op en die Matjhabeng-brandweer is nêrens in sig nie.

Op Dinsdag (08/09) het twee groot brande in Matjhabeng uitgebreek. Een het die Mimosa-ontspanningsentrum in Odendaalsrus vernietig. Tydens die brand in Welkom se nywerheidsgebied het een brandstoftenkwa ontplof en drie ander is in die brand vernietig. Die aangrensende eiendom is erg beskadig.

Die afgelope twee weke is drie mense tydens brande by huise in Welkom en Thabong dood.

Die voorsitter van die Welkom-besigheidsforum, Jakes Jooste, sê sakemanne en inwoners is keelvol.

“Ons gaan strafregtelike klagte teen die munisipaliteit aanhangig maak. Ons was in ’n situasie wat maklik in ’n ramp kon ontaard. Daar was vlamme en brandstof en gevaarlike chemikalieë en ons het geen ondersteuning gehad nie. “Die munisipaliteit kom nie hulle verpligtinge na nie en is onbevoeg.
As dit nie vir die private maatskappy, HazQuip, plaaslike boere en sakemanne was, wat tot die redding gekom het nie, sou ons ’n ramp op hande gehad het.

Jooste sê die vlamme is tot by Riebeeckstad, sowat 12 km verder gesien en die ontploffing is 7 km verder in die teenoorgestelde rigting tot by St Helena gehoor. Die temperatuur was meer as 200 °C.

“Daar was hemelhoë vlamme, dampe van chemikalieë en gas en ons het geen hulp van die owerhede gehad nie. Die polisie was nie eers daar om die gebied af te sper nie,” sê Jooste.

Hy sê nie een van die brandkrane in die omgewing het gewerk nie en die vrywilligers en personeel van die nabygeleë besighede moes hul eie water gebruik om die brande te blus.

Kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerdert in Lejweleputswa het bevestig die speurdiens ondersoek die oorsaak van die brande.

Thakeng sê die brande het na bewering ontstaan toe twee vragmotorbestuurders petrol van die een vragmotor na die onder oor getap het met die hulp van ’n kragopwekker.

“Die brand het glo by die kragopwekker ontstaan en daarna het vyf vragmotors en ’n nabygeleë gebou omstreeks 15:30 aan die brand geslaan,” sê hy.

Hardus Du Raan van HazQuip sê hierdie was beslis een van die grootste brande wat Welkom in ’n lang tyd gehad het.

Brand

Hardus Du Raan (links), bestuurder van HazQuip, staan hier saam met die drie brandbestryders wat die erge brand aangedurf het. Van links is Stanley Shokane, Andries Mojahi en Patrick Lebatla.
“Ons was gelukkig dat daar geen beserings was nie en HazQuip se span het hulle onder moeilike omstandighede hulle goed van hulle taak gekwyt.”

Vier weke gelede het Vista berig Matjhabeng het nie brandweerwaens in ’n werkende toestand nie. Dit is steeds die geval. Die munisipaliteit het dieselfde generiese antwoord (woord vir woord) op Vista se navrae geantwoord wat hulle vier weke gelede gegee het. 
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.