Ek wonder al baie lank oor die woordjie “voorspoed”.
Ons sê vir mekaar “voorspoedige nuwe jaar,” en dan bedoel ons ’n tyd van vooruitgang en welvaart, sonder terugslae, word iemand toegewens, maar is dit regtig hoe die lewe is? Is daar net altyd vooruitgang? Gaan dit elke dag net voor die wind? Is fisieke, emosionele en geestelike welvaart daagliks ons voorland?
Sommige mense wil dit natuurlik so voorhou, nè?
Lees so ’n bietjie deur die boek Job in die Ou Testament.
Job se vriende kon nie lekker verstaan waarom Job as godvresende mens soveel teëspoed beleef het nie. Hulle was oortuig dat daar sonde in sy of sy gesin se lewe moes wees.
Ons koppel so maklik sonde aan teëspoed – dit gaan sleg, of jy beleef nie die voorspoed wat jou toegewens is nie, omdat daar sonde in jou lewe is. Dit is egter natuurlik van alle waarheid ontbloot.
Job en sy gesin leef nie in sonde nie, maar hy beleef baie slegte goed.
Hy kom leer ons dan dat slegte goed ook met goeie mense gebeur en goeie goed met slegte mense.
God maak, met respek gesê, sy stem dik in die laaste paar hoofstukke en maak dit duidelik dat almal aan God se goedheid blootgestel is, maar ook aan die gebrokenheid van die wêreld.
Om iemand ’n voorspoedige nuwe jaar toe te wens is nie, en mag nie wees, iets wat gedoen word met die bedoeling dat niks slegs ons sal tref nie. Ek dink dit is onverantwoordelik. Die lewe is so ’n bietjie meer ingewikkeld as dit. Wens mekaar eerder ’n jaar toe waarin God in sy drie-enige almag voortdurend met iemand sal wees in die goeie en in die slegte.
Wens mekaar hierdie seënbede uit die 15de eeu toe: “Mag die Here deur sy Gees jou verstand verlig sodat jy nugter elke situasie waarin jy kom met Goddelike wysheid interpreteer en keuses maak.
“Mag die Here jou oë verlig sodat die manier waarop jy kyk heeltemal anders sal wees as hoe die wêreld kyk. Mag jy deur Jesus se oë na elke dag en alle mense en omstandighede kyk.
“Mag die Here jou woorde verlig, sodat jy met wysheid en insig kan praat en nie onverantwoordelike, negatiewe of godslasterlike dinge kwytraak nie.
“Mag die Here jou hart verlig sodat jy te midde van donker die Lig sal sien.”
Ek en jy is beslis nie gevrywaar van moeilike en slegte goed in 2022 nie, maar ons weet dat ons God lewend en kragtig deur Christus in ons lewe en in die wêreld werk.
So saam met Hom sien ek kans vir die jaar – al is alles nie voorspoedig nie.
– Ds. Christo Nel is leraar aan die NG kerk Riebeeckstad

