In Psalm 127 lees ons dat vir dié wat die Here lief het, gee die Here dit in hul slaap.
Die Here betoon sy genade en liefde aan dié vir wie Hy lief is.
Ons lewe in ’n harde werklikheid waar alles en almal iets van ons vra. Prestasie, teenprestasie, insette en produksie vra iets van jou, want sonder swoeg en sweet kom jy nêrens nie. Wie nie werk nie sal nie eet nie.
God se liefde vir die mens is vir baie nie ’n werklikheid nie, maar eerder iets wat ons in die sprokieswêreld kan vind.
Psalm 127 ken ook so ’n leefwyse van vroeg opstaan en laat gaan slaap om met moeite ’n bestaan te maak.
Prediker wys ook daarop dat die mens se inspanning ’n gejaag na wind is, want alles kom tot niks.
Psalm 127 raak die hele mens se bestaan. Van huisbou tot die beskerming van geliefdes wat vra na die sin van alles.
Tog is daar ’n definitiewe verskil as die Here deel is van die huisbou en die beskerming van die gesin en gesinslewe.Die Here wil saam met ons bou; Hy wil ons beskerm. Hy wil saam met ons leef in ons huis.
Met die Here kan ons ’n huis bou, met die Here kan ons mekaar beskerm, met die Here kan ons rustig slaap, want Hy sal vir ons gee wat ons nodig het omdat Hy vir ons lief is.
Die nuwe jaar kan vir ons ’n mooi jaar wees as die Here in beheer is van alles wat ek doen en beplan. Maak jou gebed vir 2024 soos dié van Josua.
Ons lees in Josua 24:15: Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien.
- Ds Philip Mc Laren is van die NG kerk Bedelia