Die agtste Mokala-boskonsert met Pietman Geldenhuys as gaskunstenaar word die naweek van 21 tot 23 April in die Mokala Nasionale Park gehou.
Dié park is sowat 80 km suid van Kimberley langs die N12.
Pietman Geldenhuys, musikant, liedjieskrywer, komediant, akteur en die afgelope paar jaar mede-aanbieder van die TV-program Oppiestoep, is vanjaar die gaskunstenaar by die gewilde musiekkonsert.
Geldenhuys, wat al vir langer as 15 jaar in die vermaaklikheidsbedryf is, het al liedjies geskryf wat deur kunstenaars soos Bok van Blerk en Andries Vermeulen opgeneem is. Hy is ’n baie veelsydige kunstenaar wat al in teater produksies opgetree het, asook in TV-reekse.
Die konsert word jaarliks deur die Sanparke-ereveldwagters se Vrystaatse streek aangebied om die park se inkomste aan te vul, en die konsert lewer elke jaar ’n groot bydrae tot bewaring in Mokala.
Gaste wat die konsert bywoon, en in die park oorbly, het genoeg tyd om oor die naweek die hele park te verken.
Volop wild soos gemsbokke, basterhartbeeste, bastergemsbokke, koedoes, buffels, kameelperde en swartwitpense is in die park te sien.
Voëlkykers kan gerus hulle verkykers saamneem, want daar is ’n groot verskeidenheid voëls en ’n besoek aan Stofdam-voëlskuiling is die moeite werd.
“Dit belowe om weer eens, soos die vorige Boskonserte, ’n naweek te wees om nie mis te loop nie. Geen moeite word ontsien om die Boskonsert ’n onvergeetlike ervaring te maak nie,” sê Christo van Staden, woordvoerder vir die boskonsert.
“Kom kuier saam met Pietman Geldenhuys, met sy liedjies en stories en die ereveldwagters onder die Noord-Kaapse se sterrehemel,” sê Van Staden.
Skakel Ina Leamy by 082-202-4202 of stuur ’n epos na ina@honoraryrangers.org om meer uit te vind of te bespreek.