Op die NG kerk St. Helena se boomplant­geleentheid is van links Kobus Malan (algemene bestuurder van Mico Trading), Claudia Malan (gesondheid-, veiligheid- en omgewingsbestuurder van Mico Trading), Lunette Basson met die pastoriebrak, Lila, ds. Domonic Basson en Errol Elliott (koster). Foto: Verskaf


Die NG kerk St. Helena het sy perseel vir die plant van bome beskikbaar gestel waarvan die vrugte vrylik aan gemeentelede en die groter gemeenskap van Welkom beskikbaar sal wees.

“Mico Trading Scrap Metals het ’n omgewingsdoelwit vir vanjaar gestel om bome te plant in ’n poging om sy koolstofvoetspoor te verminder,” sê ds. Domonic Basson, leraaar van die kerk.

Bome, insluitend vrugtebome, help om die uitwerking van koolstofdioksiedbesoedeling te verreken, terwyl hulle self dié gas nodig het om te oorleef.

Bome dien as ’n skoonmaker, of filter vir die lug, wat koolstofdioksied absorbeer en suurstof in die atmosfeer uitstoot.

“Anders as in die tuin van Eden, mag daar van al die bome by ons kerk geëet word. Dit is dalk ’n klein begin in die samewerking van die gemeenskap, maar ’n groot stap tot die opbou van die ekologie,” sê Basson.

You need to be Logged In to leave a comment.