Die Matjhabeng-munisipaliteit sal die begrafniskoste van die boeties wat Saterdag (08/01) by Bronville in ’n slikdam verdrink het, betaal, maar vir inwoners van dié woonbuurt is dit nie goed genoeg nie.
Nadio (5) en Marshall Pienaar (7) het Saterdag tydens ’n swemmery verdrink toe Marshall na ’n dieper deel van die dam beweeg het en sy voete in die diep kleilaag op die bodem vasgesit het.
Sy kleinboet wou hom gaan help toe hy ook onder die water verdwyn.
Die seuns se ma, Nadia, het Maandag verslae en stil op ’n stoel buite die gesin se huis gesit.
Die seuns se oom, Koot Pienaar, sê die twee seuns was onafskeidbaar – soos hulle gelewe het, so is hulle ook saam dood.
Koot sê hy sou die naweek met sy Jet-kaart vir Marshall gaan skoolklere en skryfbehoeftes koop.
Marshall sou hierdie week vir die eerste keer skool toe gaan.
“Dit sou ’n surprisewees, maar nou is my surpriseweg,” sê hy.
Hoewel die polisie sê die seuns se verdrinking is eers Sondag aangemeld, het inwoners aan Netwerk24 gesê drie seuns, wat saam met die twee broers geswem het, het Saterdag na die polisiekantoor gehardloop om hulp te soek.
Die seuns het glo nog geleef toe die kinders gaan hulp soek het.
Die plaaslike polisie kon nie veel doen nie en het gesê hulle moet vir die polisieduikers wag wat in Brandfort was.
Liam Brand (10), ’n maat van die Pienaar-broers, het vir die polisie gaan wys waar hy hulle laaste in die dam gesien het.
Die lykies is Sondagoggend uit die dam verwyder.
Stella Hallam, ’n inwoner van Bronville, sê die gemeenskap meen daar word niks gedoen om hul kinders te beveilig nie.
Sy sê die gemeenskap vra al jare lank dat die slikdamme omhein word.
Hoewel die damme oorspronklik deur mynmaatskappye gebruik is, is dit volgens Sihle Maake, woordvoerder van Harmony Gold, die munisipaliteit se eiendom en is hulle daarvoor verantwoordelik om dit op gepaste wyse te beveilig.
“Daar is reeds in 2020 ’n splinternuwe swembad gebou, maar nou sê hulle die swembad kan nie amptelik oopgemaak word nie omdat daar nie geld vir die openingseremonie is nie,” sê Hallam.
“Ons meen die kinders sou nie by slikdamme gaan swem het as daar ’n swembad was nie.”
Hallam sê winkels in Welkom gooi onwettig ou, verrotte kos en lekkergoed teen die woonbuurt weg.
Die kinders gaan tel glo hiervan op en eet dit.
Die ANC-raadslid van Bronville, Sipho Tsunke, het Maandag gesê die munisipaliteit sou vir die seuns se begrafnis betaal en die gesin ook op ander maniere bystaan.
Die twee boeties word deur hul ma, ouer broer, Urban (17), en suster, Melissa (9), oorleef.
Nog geen begrafnisreëlings is getref nie.