Die hoë-oktaan-toeretal van ’n kar-enjin en die reuk van petrol en olie is die adrenalien wat twee boeties dryf om hul passie in entrepreneurskap om te sit.
Benjamin (11) en Christopher (9) de Necker noem hulself Brothers in Prime. Die boeties is dalk jonk, maar hulle is reeds goed bekwaam met hul verkose ambag, en daar is min werktuigkundiges wat hulle sal kan voorsê wat om met ’n enjin te doen.
Benjamin se liefde en passie is ontketen toe hy sien hoe sy pa, Dawid, aan motors werk, dit herstel en weer verkoop.
Hy het op sy jonge ouderdom besluit dit is hoe hy sy geld wil maak.
Hy het sy pa gevra om vir hom ’n ou motor te koop, en toe begin sy passie lewe kry.
“Toe ons die kar vir hom kry, was dit letterlik ’n hoenderhok – kompleet met hoenders en eiers,” sê Dawid.
Toe Christopher sien hoe sy boetie aan sy Datsun Stanza 1800 J werskaf, wou hy ook só ’n kar hê. Dawid het toe vir hom sy eie Stanza gekoop om aan te werk.
“Ek wil hê hulle moet weet hoe om met hul hande te werk en só ’n toekoms verseker,” sê Dawid.
Hy ondersteun die seuns, en gee raad waar nodig, maar moedig hulle aan om selfstandig te wees.
Hulle moet byvoorbeeld spaar om te betaal vir die restourasiewerk aan die twee Stanzas.
Dit is hoe die konsep Damage Control gebore is.
Die seuns het ’n wrak gekoop en met hul pa se hulp neem hulle dit na verskillende motorskoue en byeenkomste in die Goudveld.
“Mense betaal om met ’n hamer die wrak te verrinneweer,” sê die seuns.
Hulle verkoop dan weer die wrak aan skroothandelaars en koop ’n nuwe wrak.
Die geld wat hulle met Damage Control maak, word gebruik om hul voertuie te restoreer.
“Die seuns het vanjaar die deelnamesertifikaat by die Cars in the Park geborg,” sê ma Ilse.
Dawid is die voorsitter van die Old Auto Club, en Ilse is ook ’n lid van dié klub.
Sy sê die seuns werk ook in die tuin en doen werkies in die huis om geld vir hul projekte in te samel.
Die seuns werk nie net aan die enjins en die bakwerk nie, maar restoureer ook die vellings en ander dele van die motors. Christopher het sy eie allooiwielvellings gespuitverf.
“Dit was iets nuuts vir my en ’n groot uitdaging. Ek het ’n nuwe vaardigheid aangeleer,” sê hy.
Benjamin is ’n ywerige “drifter” en neem graag aan byeenkomste deel.
Christopher is ook geesdriftig oor dié motorsportsoort.
Die boeties is toegewyd en werk hard aan hul onderskeie projekte.