Israel is weggevoer na Babilonië en hul gemoed is baie swaar. Hulle het alles verloor en sit in ’n land wat hulle glad nie ken nie. Hulle haat elke oomblik en wens hulle kan net teruggaan na waar hulle vandaan kom, daar waar alles veilig en reg is.
Ek dink dis hoe baie mense in die Goudveld tans voel. Ons paaie is stukkend, ons water is af, ons krag is af, ons werksgeleenthede is skaars, en alles is sommer net verkeerd.
En dan praat God met Israel en Hy gee ’n verassende opdrag. Hy sê vir hulle om huise te bou, en om daarin te woon (Jeremia 29:5-7). “Lê tuine aan en eet van die opbrengs, trou en bring kinders voort, vermeerder,” was God se opdrag aan hulle.
Dit klink amper asof dit nie kan wees nie – hoe wil God hê moet ons in ’n vreemde land maak asof dit ons eie is? Maar God is gereed vir Israel. In verse 7 sê Hy vir hulle om die belange van die stad waarin Hy hulle in ballingskap weggevoer het, te bevorder. “Bid tot my vir daardie stad, want sy belange is ook julle belange,” het God gesê.
Vriende, God sê dit wat julle belange is, is ook sy belange. God het jou en my baie versigtig kom neersit hier in die Goudveld.
Ons is weliswaar nie in ballingskap nie, maar op alle lewensterreine beleef ons ook terugslae en ons het geen idee wat die toekoms inhou nie.
Tog is ons opdrag nie anders as dié van Israel nie. Woon, bewerk en bevorder die belange van jou tuiste.
As ek en jy begin om ons dorp se belange te bevorder – bevorder ons God se belange en daarmee saam word die wêreld ’n beter plek. “Bevorder die belange”, gaan natuurlik nie net oor geld nie, maar om ’n ruimte te skep waar mense groei en geluk kan ervaar – waar hulle kan blom.
Die voorwaarde is natuurlik in vers 12 en 13 van Jeremia 29: “Ek wil hê julle moet My aanbid en my aanroep,” sê die Here.
God wil die land seën, maar ons sal Sy wil moet leer ken en met ons hele hart daarna vra.
Israel het gedink hulle is vasgevang in hulle omstandighede, maar God gee opdrag dat hulle moet Leef.
Jesus sê wees sout en lig vir die aarde. Deur Jesus Christus wat die krag gee – kan jy uit jou jammerlike toestand beweeg, en jou plekkie in die Goudveld vol staan.