Oor twee weke begin Bloemskou, wat vanjaar ook 140 jaar in die skoubedryf vier. Die skou word van 27 April tot 6 Mei in Bloemfontein gehou.
Benewens ’n propvol vermaaklikheidsprogram, is daar heelwat nuwe hoogtepunte en projekte wat nie misgeloop moet word nie.
Die binne-uitstallings het ’n nuwe baadjie aangetrek; met ’n nuwe uitleg en verskillende fokuspunte per saal is die inkopie-ervaring verrassend anders. Die uitstallings is op gehalte en verskeidenheid geskoei. Die sale het ook meer sit- en kuier-ruimtes.
In die Tulipsaal is onder meer ’n rekenaarspeletjie-arkade – ’n eerste vir Bloemskou. Verwante uitstallers en ’n verskeidenheid rekenaarspeletjies vir oud en jonk sal hier te sien wees. Verskeie aanlyn toernooie word tydens Bloemskoubeplan, en die Red Bull Kumite-skouspel word van 4 tot 6 Mei aangebied.
Die nuwe Standard Bank-landboutent met uitstallings, gespreksessies van Agri Plus Indaba saam met die NoordWes-Universiteit (NWU) se sakeskool en Agri Connect vind van 3 tot 5 Mei plaas. Rasuitstallings van skape sal van 27 tot 29 April, en beeste van 1 tot 5 Mei deel van die landboutent se aktiwiteite wees.
Die pretpark is gewoonlik ’n hoogtepunt, en vanjaar word 29 opwindende pretritte aangebied met talle aanboord gebringspeletjies en eetgoed. Die pretpark open daagliks om 10:00 en sluit ’n halfuur voordat die skou om 22:00 sluit.
Die suiwelkompetisie is die enigste in Suid-Afrika wat deel van ’n landbouskou vorm. Beoordeling hiervoor het reeds plaasgevind. Daar was 289 inskrywings en wenners sal later op die prysuitdeling bekend gemaak word.
Die kreatiewe handwerk, kuns- en gebak-afdeling is die grootste in Suid-Afrika, met 2 065 inskrywings.
Wenners hiervoor word gedurende Bloemskou aangewys in afdelings wat kuns, gebak, borduurwerk, breiwerk, kwiltwerk en vele meer insluit.
Die Plaaswerfsaal is jaarliks ’n groot trekpleister, veral vir kinders waar uitstallings van pluimvee en sierduiwe te sien is. Die Mangaung-brandweermuseum, mesmakersklub en Pantserskool-museum stal ook uit.
Plaasdiere sal vertoon word en besoekers kan ook by die kwekery koop. Sitplek is vir ouers beskikbaar in die saalom ’n ruskans te vat terwyl hul kroos die diere en uitstallings besigtig.
Vir meer inligting oor Bloemskou en die volledige daaglikse program, besoek bloemskou.co.za.