Die duurste bul wat op Richter Simbras se veiling verkoop is, is Pokerface. Hy is vir R220 000 verkoop.

BLOEMFONTEIN. Die hoogste gemiddelde prys vir bulle op ‘n veiling van Suid-Afrikaanse Simbras is op ‘n aanlyn veiling behaal.

Chris Richter, stoetteler en boer van die plaas Leeukop in die Bloemfontein-distrik, het op Donderdag 26 Junie Richter Simbras se 20ste produksieveiling aangebied en daarmee die hoogste gemiddelde bulprys in die geskiedenis van Simbra-veilings in die land behaal: R112 000.

Die hoogste prys van die dag is die R220 000 wat Dave Howard van Kenton-on-Sea vir Pokerface (Lot 10) behaal het.

Op die veiling wat via die SwiftVee- aanlyn platform aangebied is, hier by Vleissentraal Bloemfontein, is van links Nelius van Schalkwyk (SwiftVee), Barend Britz (Vleissentraal), Ian Grobbelaar (afslaer), dr. Martlie Richter en Chris Richter (Richter Simbras), Allan Sinclair (Vleissentraal) en Bennie Kampfer (SwiftVee).

Richter is bekend vir sy vermoë om topgehalte-bulle met voortreflike genetiese eienskappe te teel – ’n nalatenskap wat duidelik blyk uit die rekordpryse en wye vraag na Richter Simbras se diere. Sy teelstrategie fokus op diere wat gehard, vrugbaar en aanpasbaar is. Dit is alles eienskappe wat waarde toevoeg in verskeie produksie-omgewings.

Wat hierdie prestasie besonder merkwaardig maak, is die rol van aanlyn tegnologie en die digitale platform wat wêreldwye deelname moontlik gemaak het. Meer as 2 300 aanlyn kykers van oor die wêreld heen het die veiling dopgehou, en kopers het ingekoop van oor Suid-Afrika heen – van Limpopo tot die Wes-Kaap.

’n Koper uit die VSA, wat ook ’n boerdery in Suid-Afrika bedryf, het ook ’n bul aangeskaf. Hierdie internasionale betrokkenheid onderstreep nie net die wêreldgehalte van Richter Simbras se genetika nie, maar ook die grensverskuiwende potensiaal van aanlyn platforms om boerderybedrywighede wêreldwyd te verbind.

Die uitsonderlike resultate van hierdie mylpaal-veiling getuig nie net van die gehalte van die diere nie, maar ook van die noukeurige teel en bestuurspraktyke van die Richter-span.

Chris en Martlie Richter, die dinamiese span agter Richter Simbras, bestuur hul stoet met passie, visie en ’n verbintenis tot deurlopende vernuwing.

 “Die sukses van ons 20ste produksieveiling en vyfde aanlyn veiling bevestig nie net die mark se vertroue in ons genetika nie, maar ook die enorme waarde van toegewyde teelpraktyke, sterk kliënteverhoudinge en die benutting van moderne tegnologie om ons bereik te verbreed. Ons is trots op wat bereik is en vasbeslote om voort te bou op hierdie momentum,” sê Chris Richter.

You need to be Logged In to leave a comment.