‘Bloed tot die einde blou’

Paul Sauer, skoolhoof van die Goudveld-Hoërskool:.


Paul Sauer, skoolhoof van die Goudveld-Hoërskool:

Ná twee jaar is die derby weer terug!

In dié tyd klop harte warm vir hul onderskeie skole, herleef herinneringe en is die opgewondenheid en afwagting in die lug tasbaar.

Baie dankie aan Johan Slabbert, die Gimmie-personeel, beheerliggaam en elke Gimmie vir die uitnodiging na jul terrein. Ons wil die dag saam met julle en die hele Goudveld-gemeenskap geniet.

Groot woord van dank aan FNB wat jaarliks Classic Clashes oor die land heen aanbied en as ons plaaslike hoofborg optree. FNB het die bemarkingswaarde saam met geleentheidskepping vir ons kinders raakgesien en dit uitmuntend benut.

Aan elke adminsitrateur en skeidsregter wat vandag optree, baie dankie vir jul opoffering en bereidwilligheid.

Dit is ook met groot dankbaarheid dat ons ons lojale borge van die 2022-winterseisoen bedank. Sonder julle kan ons nie sulke geleenthede vir kinders bied nie. Die feit dat julle in opvoeding belê, is vir ons van groot waarde. Die vertroue in ons gestel ondanks moeilike ekonomiese omstandighede maak dit vir ons in Goutieland ’n voorreg om met julle vereenselwig te word.

Dankie aan die Goudveld-personeel vir al jul insette en voorbereiding vir die geleentheid. Dit bly ’n voorreg om julle as kollegas te dien.

Dit bly ons doel om ’n skool vir die gemeenskap te wees. ’n Skool waarmee ons hele samelewing met trots vereenselwig kan word; wat dit ten doel stel om ons plaaslike talent te ontwikkel.

Op hierdie dag word gewoonlik op die eerste spanne gefokus. Tog bly dit belangrik om soveel leerlinge moontlik by die groot oomblik te betrek. Die B- en C-spanspelers is net so belangrik. Die kind wat aan die optog of die voorafverigtinge deelneem, moet net so deel voel soos die eerstespanspelers wat op die veld uitdraf. Dan het die derby geslaag.

My Goutie-hartskinders, dra vandag jul hart op jul moue, hou jul kop omhoog. Ons bloed is blou tot die einde. My vlagdraers, waar elkeen iemand is. Ons is oneindig lief vir julle.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.