Hier hou Antoinette Schoeman die Currie-beker vas. Saam met haar is van links George Lourens, Evardi Boshoff en Oupa Mohoje. Photo: Verskaf


Dit is sekerlik die droom van enige Cheetah-ondersteuner om in lewende lywe die gesogte Curriebeker te kan vashou.

Die eer het die Goudveld se eie Antoinette Schoeman te beurt geval toe sy saam met talle ander Goudvelders die beker van naby kon besigtig.

“Hierdie jaar het ek al baie opwindende ervarings en belewenisse beleef, maar glo my: Op 25 Oktober het ek die hoogste van my geseënde jaar beleef en ervaar,” vertel sy.

“Ek het die voorreg gehad om met drie gesoute ysters van die Vrystaat hand en blad te skud en die pragtigste beker, ons eie Currie-beker, vas te hou. Dit was hoendervleis-oomblikke. Oomblikke wat ek neergepen het om eendag vir my kleindogters as herinneringe na te laat. Foto’s is geneem en handtekeninge is uitgedeel.

“Baie, baie dankie Ross van Reenen en die Vrystaatse Rugbyunie vir die geleentheid,” sê ’n bewoë Schoeman.

Schoeman het ’n paar maande gelede planne beraam om die Currie-beker in Welkom te kry, en toe het hierdie droom ’n werklikheid geword.

“Ek kan met trots sê dat ek nóóit moed opgegee het om die beker in die Goudveld te kry nie. Ek het hard daaraan gewerk omdat ek vir seker een van die grootste ondersteuners van Vrystaat-rugby is.

“In my are sal oranje vloei totdat ek die dag die aarde groet. Ek is ’n Vrystater in murg en been en bly al 73 jaar in die Goudveld,” sê sy met trots.

Schoeman sê dankie aan Ross van Reenen, hoof van die Toyota Cheetahs, en Ronel Pienaar wat dit moontlik gemaak het om die beker in die Goudveld te kry.

“Ek kan nié wag vir ons Cheetahs se wedstryde nie. My sitplek, nommer 346, sal ek beslis behou en beset.”

You need to be Logged In to leave a comment.