Betogings in Phomolong by Hennenman duur voort

Die onluste in Phomolong, Hennenman, duur voort en teen Maandagoggend het inwoners in groepe saamgedrom en ’n poging aangewend om die R70-pad te versper, en skole te ontwrig.


Die onluste in Phomolong, Hennenman, duur voort en teen Maandagoggend het inwoners in groepe saamgedrom en ’n poging aangewend om die R70-pad te versper, en skole te ontwrig.

Die meeste van die paaie in dié nedersetting is afgesper.

’n Groep van sowat 350 inwoners het saamgedrom en die hoofpaaie in Phomolong met brandende bande, rommel, groot klippe en bome ontoeganklik gemaak.

Die betogers is deur polisie-lede van die openbare-orde-polisiëring op die grond gestuit en uiteen gejaag.

’n Groep van die betogers het die Phomolong-satellietpolisiestasie binnegegaan en geëis dat die Vrystaatse polisiekommissaris, lt genl. Baile Motswenyane, na Phomolong moet kom.

Die situasie is steeds gespanne.

Kapt. Stephen Thakeng, mediaskakelbeampte van die Lejweleputswa-polisie, sê ’n saak van openbare geweld is geregistreer, maar daar is nóg geen verdere betogers in hegtenis geneem nie. Verlede week is 28 mense in hegtenis geneen, waaronder een vrou en agt minderjariges.

Die Welkom-openbare-polisiëring en misdaadintelligensie is steeds teenwoordig in Phomolong.

You need to be Logged In to leave a comment.