Besighede in Welkom en Odendaalsrus raporteer erege finsiële verliese van miljoene weens droë krane.

Marti Will

’n Massiewe belastingbetaler-opstand staar die Matjhabeng-munisipaliteit in die gesig nadat groot dele van Welkom, Riebeeckstad, Thabong, Ventersburg, Odendaalsrus en Bronville langer as ’n week sonder water is.

Nagenoeg 210 572 inwoners van Welkom en altesaam 477 381 inwoners van Matjhabeng is deur die krisis geraak, met geen sinvolle verklaring vir hoe dit ontstaan het nie.

Die waterpompe wat van 31 Mei tot 2 Junie altesaam 32 uur lank vir herstelwerk afgeskakel was, is weer aangeskakel, maar weens tegniese probleme kon niemand water kry nie.

Vista verstaan R6 miljoen is betaal vir die herstel van die Sulzer-pomp, wat toe nie herstel is nie. Ná ’n vergadering tussen die munisipaliteit, Bloemwater, die Departement van Water en Sanitasie (DWS) en raadslede, het die Harmony-goudmyn onderneem om dié pomp te herstel.

Die motor by Balkfontein sal op 21 Junie aangebring word, en die pompstasie by Saaiplaas in Virginia sal herstel word om water aan sekere dele van Welkom te voorsien.

Daar word beplan dat Matjhabeng se waterprobleme teen einde Julie opgelos sal word. Intussen sal beurtwater in groot dele van Matjhabeng nog toegepas word.

Kenners vertel dat weens die swaar gebruik van water, word die reservoirs nie vol nie. Nie eens die afgedwonge waterbeperkings help om die reservoirs vol te kry nie, want daar is nie water om te beperk nie.

Daar is ook “steel”-verbruikers wat die kleppe oopdraai en so ook die reservoirvlakke negatief beïnvloed.

Besighede in Welkom en Odendaalsrus rapporteer erge finansiële verliese van miljoene weens die droë krane.

“Die munisipaliteit het ’n gebeurlikheidsplan, wat nege waterwaens insluit, om die geaffekteerde gebiede by te staan. Wyksraadslede staan ??die amptenare by wat getaak is met die implementering van die plan om geaffekteerde gemeenskappe te identifiseer. Almal vat hande om die wateruitdaging vinnig op te los. Gebruik asseblief geduld gedurende hierdie tyd,” sê Tshediso Tlali, woordvoerder van die Matjhabeng-munisipaliteit.

Maar die beloofde waterwaens is baie min en daar is geïsoleerde waarnemings van dié waens in Welkom self. Inwoners sê daar is vier waterwaens in Thabong.

Inwoners braak gal op Facebook en WhatsApp-groepe, en die woedevlakke het ’n stadium van oproer bereik. Inwoners dreig met ’n belastingbetaler-opstand.

Menige sê hulle gaan hul maandelikse betalings weerhou.

Inwoners meen daar word vir hulle gelieg oor die werklike oorsake van die watersituasie en daar is ’n gebrek aan vertroue dat die pypleiding en pomp op 30 Mei herstel is.

Inwoners sê waterbeperkings en waterverlies moet direk toegeskryf word aan Matjhabeng se uitstaande rekening van R5 biljoen wat hulle aan Bloem Water skuld.

Oor die algemeen sê inwoners en besighede hulle sal nie hierdie maand se munisipale tariewe kan bekostig nie.

“Genoeg is genoeg. Ek is siek en sat om munisipale belasting en diensfooie aan die Matjhabeng- plaaslike munisipaliteit te betaal. Ek as ’n inwoner bevestig hiermee dat ek van voorneme is om betaling van my belasting aan die nuttelose munisipaliteit te staak,” het een inwoner op WhatsApp geskryf.

’n Ander groot bekommernis van inwoners is die siektes, infeksies en gesondheidsprobleme wat gepaard gaan met die waterbeperkings.

Daar is die cholera-situasie in Suid-Afrika en Matjhabeng se groot rioolkrisis. Dít saam met die waterkrisis wek wyd kommer.

You need to be Logged In to leave a comment.