‘Beste breine’ bymekaar

Herlewingslandbou kan klimaatsverandering versag en aanpas, sê dr. Hendrik Smith, bewaringslandboukundige, wat die kongres oor herlewingslandbou in Reitz in die Oos-Vrystaat bywoon.

Boere kyk tydens die Herlewingskongres na ’n profielgat op die plaas Van Rooyenswoning buite Reitz in ’n mielieland waar geen kunsmis toegedien word nie. Foto: Mglungisi Louw


Herlewingslandbou kan klimaatsverandering versag en aanpas, sê dr. Hendrik Smith, bewaringslandboukundige, wat die kongres oor herlewingslandbou in Reitz in die Oos-Vrystaat bywoon.

Smith sê te midde van klimaatsverandering wat vanjaar direk in die landbou ’n rol speel ná die warmste Februarie in menseheugenis, die beginsels van bewaringslandbou boere help om aan te pas om klimaatsverandering te wen.

“Grondbedekking help dat reënwater die grond infiltreer en nie erosie veroorsaak nie. Dit beheer die grondtemperatuur en verhoed verdamping. Herlewingslandbou herstel die watersiklus en verseker dat boere elke druppel water doeltreffend benut,” sê hy.

“Dit help ook om die aarde of landskap af te koel deurdat soveel moontlik lewende plante fotosinteer en transpireer. Laasgenoemde verkoel en skep reën.”

Talle boere en belanghebbendes van die landbougemeenskap het Maandag 11 Maart en Dinsdag by Reitz saamgetrek om insiggewende landboukennis by die jaarlikse landbou-herlewingskongres te bekom.

By vanjaar se kongres het sowat 15 sprekers hul kennis met die bykans 300 kongresgangers gedeel.

DF Fyfer van Louwna in die Noordwes wie se boerderystelsel beeste, hoenders en bye insluit, sê om die oorgang na herlewingslandbou suksesvol te navigeer, verg deeglike beplanning en eerlike vrae aan jouself.

Volgens hom kom dit daarop neer om die oorskakeling wat jy wil maak, prakties te gaan uitvoer.

“In 2024 is daar ’n ooraanbod van inligting, jy kan enigiets wat jy wil weet, navors. Dus is inligting nie van baie waarde nie, want dit is volop. Wat wel waarde het, is die uitvoering daarvan,” sê hy.

Chris Burgess, Landbouweekblad se redakteur, sê die kongres het oor die jare al die maatstaf gestel vir die opleiding van herlewingslandbou in Suid-Afrika.

“Elke jaar word van die beste breine in ekologiese boerdery wat die wêreld kan bied, bymekaar gebring,” sê hy.

Die hooffokus is om boere toe te rus oor hoe om die gratis, ekologiese dienste wat die natuur bied, te benut in hul boerderye. Dit sluit alles in van hoe om die voordelige vyande van insekte te vermeerder om boerdery-plae te beheer, tot die opbou van gesonde grond wat minder kunsmis nodig het en reën beter absorbeer.

’n Boer van Bergville in KwaZulu-Natal moes nadat hy grond in die Vrystaat gekoop het, vinnig leer hoe om sy herlewingslandboulesse aan te pas sodat dit werk in Vrystaatse grond.

Bruce Shepard sê hy het vinnig geleer dat dit net soos in die een provinsie waar is vir die ander – as jy organiese mikrobes in jou grond het, sal jou oes vir homself sorg.

“Dit moes ek jare gelede self uitwerk. Geleenthede soos hierdie, die konferensie, bied nou ’n geleentheid vir mense van oor die land heen om daarvan te leer, by ander wat ook self daardeur is.”

Die hoofborge van die konferensie is VKB en Land Bank.

Benewens die aand-gesellighede, het die kongresgangers ook Dinsdag die kans gehad om die praatjies prakties te sien lewe kry op een van die boere, Danie Slabbert, se plaas Van Rooyenswoning by Reitz.

Hier is gedemonstreer watter verskil boere kan verwag van ultrahoëdigtheid-beesbeweiding, sowel as ’n verskuifbare hoenderhok wat op die veld gebruik word.

You need to be Logged In to leave a comment.