Die pastoor en sy vrou en die hoërskool onderwyser en sy meisie, wat aangekal word in twee opspraakwekkende hof­sake wat verband hou met seksuele misdrywe teen kinders, aanranding, en dieremishandeling, bly in aanhouding

iStock

Die vier beskuldigdes in twee opspraakwekkende hof­sake wat verband hou met seksuele misdrywe teen kinders, aanranding, en dieremishandeling, bly in aanhouding.

Die borgtogaansoek van die hoërskoolonderwyser (38) en sy vriendin (33), wat albei voor die hof verskyn op aanklagte wat verband hou met seksuele oortredings met kinders, is na 5 Desember uitgestel.

Die eerste aanklag behels verkragting; seksuele aanranding; algemene aanranding; en blootstelling, vertoning, of om die blootstelling of vertoning van pornografie aan kinders toe te laat.

Die tweede aanklag is seksuele aanranding en seksuele gereedmaking van ’n kind.

Albei beskuldigdes is op 13 September in hegtenis geneem.

Die slagoffers is twee meisies, drie en vier jaar oud, en ’n seun van ses. Twee van die slagoffers is reeds in 2021 van die vrou weggevat en mag net by hul ma kuier.

Die man is ’n onderwyser by ’n spesiale skool in Welkom, en sy vriendin is by gemeenskapspolisiëring betrokke.

  • In die tweede saak word ’n pastoor (67) van Odendaalsrus van die verkragting van ’n minderjarige meisie aangekla.

Sy vrou word daarvan aangekla dat sy van die voorval kennis gedra het, maar versuim het om dit by die owerhede aan te meld.

Die egpaar word ook aangekla van dieremishandeling, wat tot die dood van ’n hond gelei het, en aanranding op die hond se eienaar.

’n Varkhond is meer as 50 keer met messe gesteek en is as gevolg van die voorval dood.

Die egpaar het na bewering ook die hond se eienaar tydens die aanval op die hond aangerand terwyl sy probeer het om haar troeteldier te beskerm.

Sy het op ’n stadium bo-op die hond gaan lê.

Die egpaar het op 25 September saam in die hof verskyn, waar die nuwe aanklagte (verkragting en versuim om die seksuele aanranding van ’n minderjarige aan te meld) by die bestaande aanklagte van aanranding en dieremishandeling gevoeg is.

Hulle het albei hul borgtogaansoek laat vaar en bly in aanhouding.

Die saak is na 11 Desember uitgestel vir ’n besluit deur die direkteur van openbare vervolging.

You need to be Logged In to leave a comment.