Ondanks ’n massiewe beroerte wat tot maande van rehabilitasie en fisioterapie gelei het, pak ’n Welkomse vrou opnuut die lewe met haar nuutgevonde passie vir dans aan.
Mylene Bosch, eienaar van iCALC Training Academy in Welkom, het einde Januarie 2023 ’n beroerte gekry. Sy was 60 jaar oud en besig met haar doktorsgraad in ingenieurswese.
Ná die beroerte was sy vir tien dae in die Mediclinic Bloemfontein se waakeenheid en daarna in die Emoya-rehabilitasiekliniek in Bloemfontein. Sy kon maande lank nie loop nie, en het in Mei 2023 met fisioterapie begin.
Met haar wilskrag en liefde vir musiek en dans het sy by die Studio 1-dansskool van Annaline Bakker aangeklop. Haar spierkoördinasie het stelselmatig verbeter, en sy het aangedring om aan kompetisies deel te neem. ’n Spesiale afdeling is by die klubkampioenskappe van 16 Maart in Kroonstad op die program aangebring, en die musiek is ook aangepas.
“Sy het die gehoor in trane gehad. Met haar eerste kompetisie en een dans op die verhoog het sy met handgebare – sy kon nog nie verstaanbaar praat nie – gewys sy wil nie net een dans doen nie, sy wil meer leer,” vertel Bakker.
Met harde werk en deursettingsvermoë het Bosch op die volgende kompetisie in Mei in Gauteng drie danse in East Coast swing, novelty en hip hop gedoen. Die passies is deur Bakker uitgewerk. Bakker nooi ander met soortgelyke terugslae, ook diegene in rolstoele, met ’n liefde vir dans en musiek om haar by 083-625-9112 te bel.
“Ons wens Mylene voorspoed met haar vordering en sê dankie vir die voorbeeld wat sy vir ons is,” sê Bakker.