Vier onbekende mans het ’n kitsbank in Nkoanestraat, Thabong met plofstof oopgeskiet. Foto: SAPD


’n Bende het ’n kitsbank in Thabong met plofstof oopgeskiet en met ’n onbekende bedrag geld gevlug.

Die voorval op het op 12 Februarie by ’n vulstasie in Nkoanestraat plaasgevind.

Omstreeks 02:00 het vier mans die kantoor op die perseel met ’n Ford bakkie gestamp.

Die kassier, sekuriteitsbeamptes en petroljoggies is met vuurwapens aangehou terwyl die kluis met plofstof oopgeskiet is.

Die verdagtes het in ’n bakkie en ’n BMW met NW-nommerplate gevlug. Skote is afgevuur, maar niemand is beseer nie. Die Thabong-polisie is na die toneel ontbied en ’n saak van sakeroof is vir verdere ondersoek oopgemaak. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Enigiemand met inligting word versoek om kol. James Mahlatsi van die Ernstige en Geweldsmisdade op 073-453-8990 te bel. Mense kan ook die SAPD-misdaadlyn by 08600 10111 skakel of ’n anonieme wenk op die MySaps-toepassing deurgee.

You need to be Logged In to leave a comment.