Wanhoop is dalk ’n bietjie kras gestel, dalk sou ons eerder kon vra: Waaraan hou ek vas om deur die dag te kom? Vir die meeste van ons is dit ons geloof.
Die wete dat Jesus Christus my enigste redding in lewe en dood is, soos in die Heidelbergse kategismus saamgevat in vraag een.
Maar dan, dadelik die vraag wat in my gedagtes opkom: Wat behels hierdie geloof in Christus?
Wat is die ware geloof in die duisternis van ons land se omstandighede?
Soos enige goeie teoloog weet, lê die antwoord in die Skrif.
In Romeine 10:10 – 13 bevestig Paulus dit vir ons: Want met die hart glo ons, en word so regverdig verklaar; met die mond bely ons, en word so verlos.
In vers 11 lees ons dat die skrif tog sê: Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nie. In vers 12 is dit geskryf dat dit inderdaad geen verskil maak of jy ’n Jood of ’n Griek is nie.
Ons het almal dieselfde Here, en Hy deel sy rykdom uit aan almal wat Hom aanroep.
Laastens in vers 13 lees ons “elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal verlos word.”
Romeine 10 is ook gepas by vraag 29 van die kategismus wat vra: Wat is ware geloof?
Die antwoord: ’n Ware geloof is nie alleen ’n vasstaande kennis waardeur ek alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het vir waar aanvaar nie, maar ook ’n vaste vertroue wat die Heilige Gees deur die evangelie in my hart werk, naamlik dat God nie net aan ander nie, maar ook aan my uit loutere genade, slegs op grond van Christus, vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid geskenk het.
Alles is aan ons geskenk uit genade, ons kan dus nie anders as om te draai na God toe nie en vas te hou aan ons geloof nie.
Ons geloof hou ons geanker, nie in ons daaglikse ellende nie, maar in die ewige God waarin ons ons hoop en vertroue kan plaas.
Ware geloof in die wanhoop van ons tyd is om geanker te bly in ’n verhouding met die lewende God wat Sy seun nie net gestuur het vir ons nie, maar vir elkeen wat glo.
Dan word die wanhoop van ons tyd omgedraai in hoop.
- Ds. Domonic Basson is van die NG kerk St. Helena, Welkom.