Van landskappe tot diere – daar is geen onderwerp wat Corné Kapp (middel) bo ’n ander verkies nie.Foto’s: Verskaf

Sy natuurlike kunstalent het al van kleins af op die lappe gekom.

“Ek onthou hoe ek reeds in sub A pouses in die klas gebly het om prente vir die mure te teken,” sê Corné Kapp (48).

Dié kunstenaar, woonagtig in Riebeeckstad, is in Welkom gebore. Hy het sy laer- en hoërskoolloopbaan ook in die Goudveld voltooi.

“Jare later het ek die fynere kunstegnieke by my oom Ben van Wyk, wat ’n bekende kunstenaar in Parys was, geleer,” sê Kapp.

“Ek het saam met hom in sy galery in Parys uitgestal.”

Van Wyk is verlede jaar oorlede.

“My oom was ’n fantastiese leermeester en ons het baie gelag en grappe saam gedeel.”

Van landskappe tot diere – daar is geen onderwerp wat Kapp bo ’n ander verkies nie. En sy skilderye vang die wese van elke onderwerp vas.

“Ek hou van verskillende mediums, en dus verf ek waarvoor ek lus is op enige gegewe oomblik.”

“Ek skilder hoofsaaklik met olie op doek, maar hou steeds baie van akrielverf.

“Soms wil ek fyn werk, en ander kere werk ek met my paletmes. Ek hou van uitdagings.”

Kapp het al by vlooimarkte uitgestal, asook by die Nampo-oesdag en in die Ben van Wyk-galery in Parys.

Van sy skilderye hang selfs in Alaska, Nieu-Seeland en Australië.

Justin Dylan (11) volg in sy pa se voetspore.Foto: Verskaf

Sy seun, Justin Dylan (11), volg in sy voetspore wat kunstalent betref.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Untitled post 265989
    Vista E-edition 10 July 2025