Die Welkom Publisiteitsvereniging hou Saterdag ’n Veg Winter-kombersveldtog op hierdie maand se People’s Market op die sportterrein van die Hoër Tegniese Skool Welkom (HTS).
“Ons wil die publiek aanmoedig om hul hart oop te maak en komberse te skenk wat ons aan behoeftiges in die gemeenskap sal uitdeel. Dit is baie koud, en baie van die minderbevoorregtes in ons gemeenskap sal só gehelp word,” sê Dulcie Harris, van die vereniging.
“Sedert die mark se bedrywighede na die nuwe ligging by HTS verhuis het, het dit gegroei. Markgangers kan nou tyd deurbring tussen meer as 100 stalletjies, wat ’n verskeidenheid goedere, kos en geskenke bied om van te kies en keur.”
Die kosmarkte is almal na die HTS-koshuiskompleks geskuif.
Om ’n stalletjie te bespreek, stuur ’n WhatsApp-boodskap aan Mel van der Heever by 072-240-8618.
“Kom kuier op ons mark in ’n veilige omgewing met baie gratis parkering,” sê Van der Heever.