’n Babaseuntjie van 11 maande van Ventersburg is Vrydag (27/05) in die Universitas-hospitaal in Bloemfontein dood weens erge breinbeserings.
“In ons voorlopige ondersoek is bevind dat die kind op 20 Mei van sy bed afgeval het en die volgende dag hospitaal toe geneem is,” sê kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder.
Christiaan van der Merwe is na die Bongani-hospitaal in Welkom geneem en toe weens die aard van sy beserings na die Universitas-hospitaal oorgeplaas.
Thakeng sê niemand is in verband met Christiaan se dood in hegtenis geneem nie, maar waarskuwingsverklarings is by sy ouers en ’n kinderoppasser afgeneem.
’n Lykskouing sal gedoen word, waarna die polisie sy ondersoek sal uitbrei indien nodig.
Die polisie het die gemeenskap van Ventersburg versoek om hulle in te lig as hulle meer inligting het.