Dihani Muller van die Hoërskool Wessel Maree het 830 punte verwerf vir 33,65 m in die diskusgooi vir meisies o.15. Foto: Verskaf

Hoërskole-atletiek in die Goudveld is ná twee jaar van stilstand voluit aan die gang.

Op 16 Februarie het 47 skole uit Welkom en distrik aan die skole-interdistrik-atletiekbyeenkoms in Bloemfontein deelgeneem.

Die kompetisie was sterk en ongeveer 1 300 atlete het meegeding.

Die Goudveld-Hoërskool het die beste gevaar deur 48 goue medaljes bymekaar te maak. Kort op sy hakke is Welkom–Gimnasium met 35 goue medaljes. Die Hoërskool Riebeeckstad is derde met 14 goue medaljes en die Hoërskool Hentie Cilliers, met nege goue medaljes, vierde.

Dit is net Goudveld (104) en Gimnasium (85) wat algeheel meer as 50 medaljes gewen het.

Wat die platteland betref, het Bothaville die meeste goue medaljes bymekaar gemaak – altesaam nege. Bultfontein is tweede met vier goue medaljes.

Onder die ontwikkelende skole het die Hoërskool Ipopeng die beste gevaar deur vyf goue medaljes te verower.

Die Hoërskool Rainbow en die Hoërskool Taiwe het elkeen vier goue medaljes ontvang.

In die aflosnommers was die kompetisie tussen Goudveld en Gimnasium opwindend.

In die tien aflosnommers het Goudveld 5 eerste plekke, 2 tweede plekke en 1 derde plek behaal. Gimnasium het 3 eerste plekke, 4 tweede plekke en 2 derde plekke verower. Gimnasium het ook in die gesogte aflosnommer vir seuns o.19 gewen.

Tyla Wasmuth van Goudveld het die beste prestasie van die byeenkoms behaal. Sy het in die o.16-diskusgooi met 44,87 m gewen vir 985 punte.

Ilke de Klerk, ook van Goudveld, is tweede met 924 punte in die o.17-gewigstoot, met 14,83 m. Ilke beklee ook die derde plek in o.17-diskusgooi met 921 punte.

Altesaam 15 atlete uit die top 20 het in worpe presteer. Onalenna Oliphant (Gimnasium, o.19) is die enigste spronge verteenwoordiger in die top 20, met 802 punte vir sy 14,39 m en het ’n byeenkoms-rekord in driesprong verbeter.

Op die baan het Lehlohonolo Ramatshebe, ’n o.17-atleet van Riebeeckstad, 883 punte vir die 3 000 m gekry, in 9:02.50.

Tweede beste op die baan is Geelbooi Kondile van Riebeeckstad. Hy het 867 punte in die 3 000 m-hindernisnommer behaal, in 10:14.88. Geelbooi het ook in die 5 000 m gewen en het 867 punte behaal.

Die drie beste prestasies in die junior-afdeling is diskusgooi-atlete. Dihani Muller van die Hoërskool Wessel Maree het 830 punte vir 33,65 m in die afdeling vir meisies o.15 verower. Tweede is Lynn-Mari Louw van Gimnasium, meisies o.14, met haar 830 punte en 32,66 m. Derde is Lenro Kruger van Bultfontein, ’n o.14-seun, met sy 820 punte vir 47,43 m.

In die top 40 was slegs drie prestasies van meer as 900 punte en 21 prestasies van meer as 800 punte, en 12 rekords is verbeter.

– Rudolph Cloete, Vrystaat-skole-atletiek

You need to be Logged In to leave a comment.