Atlete se talent nie misgekyk

’n Liggaamlik gestremde atleet van die Vrystaat is benoem as nuweling van die jaar vir Suid-Afrika se jaarlikse sport-eerbewyse wat deur die departement van sport, kuns en kultuur toegeken word.


’n Liggaamlik gestremde atleet van die Vrystaat is benoem as nuweling van die jaar vir Suid-Afrika se jaarlikse sport-eerbewyse wat deur die departement van sport, kuns en kultuur toegeken word.

Dié spoggeleentheid het op Sondag 5 Mei in Johannesburg plaasgevind.

Dit is die eerste keer dat boccia-atlete benoem is. Karabo Morapedi (21) van Welkom is saam met sy spanmaat, die Kapenaar Elanza Jordaan, in dieselfde afdeling benoem. Hulle was benoemdes saam met die krieketspeler Gerald Coetzee en die rugbyspeler Manie Libbok, wat met die prys weggestap het.

Morapedi is serebraal gestremd en woon in Welkom. Hy het onlangs sy nasionale diploma in openbare bestuur aan die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) se Welkom-kampus verwerf.

Hy sê hy hoop sy benoeming maak mense meer van die sportsoort boccia bewus.

“Boccia is amper soos rolbal, maar vir mense met fisieke gestremdhede,” sê Marisa Potgieter.

Potgieter is ’n boccia-afrigter en arbeidsterapeut by die Hoërskool Martie du Plessis in Bloemfontein.

“Die atlete wat boccia speel, is almal baie fisiek gestremd en permanent in ’n rolstoel.”

Die atlete moet almal in hul rolstoel speel. Baie van hulle het ’n helper wat hulle bystaan om die bal te beheer.

“Hulle het ook ’n toestel wat hulle help om die bal te gooi, want hulle het nie die vermoë om dit self te doen nie,” sê sy.

Die atlete speel met gekleurde balle en moet probeer om die bal die naaste aan die wit bal te kry. Indien die speler die gekleurde bal nader aan die wit bal kry as sy teenstander, word ’n punt toegeken.

“Mense dink altyd boccia is maklik om te speel, maar dit is eintlik ’n ongelooflik strategiese spel,” sê Potgieter.

Morapedi sê hy is dankbaar dat hy aan boccia blootgestel is, want daar is baie min geleentheid vir mense met liggaamlike gestremdhede om aan sport deel te neem.

Hy sê boccia het hom ook al baie gehelp met sy geestesgesondheid.

Morapedi en Jordaan sal in Julie aan die boccia-wêreld­byeenkoms in Egipte deelneem.

Albei het vir die Paralimpiese Spele in Frankryk gekwalifiseer.

Reinet Barnard, ’n boccia-afrigter, is in die afdeling vir tegniese beampte van die jaar benoem, en die boccia-vrywilliger Zelma Basson as vrywilliger van die jaar.

You need to be Logged In to leave a comment.