Die Harmony Striders wat aan die jaarlikse Ysbeer-swemuitdaging by die Allemanskraaldam deelgeneem het, is van links Cornelius Visagie, Rudolph Rabie, Mornay du Plessis, Rina Nel, Deon Lodder, Tanya Stocks, Antoinette Bothma, Morné Nel en Juana Kok. Foto: Verskaf


Honderde toeskouers het die 180 swemmers wat die ysige water van 9 °C op Saterdag 29 Junie by Aldam aangedurf het, aangemoedig.

Die Ysbeer-swemuitdaging was ’n reuse-sukses, en baie kleurryke karakters was teenwoordig.

“Daar is verskeie instansies verteenwoordig op die eerste van vier swembyeenkomste in 2024. Hierdie is die 29ste jaar wat dit aangebied word,” sê Felix Burri, organiseerder en stigter van die byeenkoms.

Burri sê R6 000 toegangsgeld is ingesamel, wat deur organisasies soos die Rotary-klub in Odendaalsrus vir welsyn aangewend sal word.

Hy voeg by dat wyle vriendin, kollega en gemeenskapsmens, Alet van der Walt, onthou is vir haar bydrae tot die Ysbeer-geleentheid in besonder, en die Goudveld-gemeenskap as geheel.

’n Groep swemmers van Sasolburg wat aan meervoudige sklerose (MS) ly, het ook deelgeneem.

“Hulle het bewusteid van die siekte kom bevorder terwyl hulle die damwater trotseer. ’n Kankerbewustheidsgroep van Winburg het kom vertel van hul werk en het die verskeie vorms van kanker uitgelig. ’n Man (59) wat sy been verloor het, het met sy gestremdheid die swem aangepak en was baie ingenome met sy eerste en enigste medalje ooit,” sê Burri.

Hy sê volgende jaar se byeenkoms gaan groter en beter wees.

“Ons sien nou uit na die geleentheid in Bloemfontein by Doringbos op 6 Julie om 12:00,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.