Op Atletiek Suid-Afrika (ASA) se toekenningsgeleentheid vir 2022 het die Goudveld se Miné de Klerk met die titel van o.20- vroulike atleet van die jaar weggestap.

Die geleentheid is Vrydag (27/01) by die Thaba Eco-hotel in Johannesburg gehou.

De Klerk se prestasie in gewigstoot op die Wêreldatletiekkampioenskapsbyeenkoms vir o.20-atlete in 2021 het aan haar dié eerbewys besorg.

Sy het in Augustus van daardie jaar ’n skittervertoning in Nairobi, Kenia, gelewer en ’n goue medalje in gewigstoot en ’n silwermedalje in diskusgooi gewen. Boonop was die afstand van 53,50 m wat sy in diskusgooi gehaal het ’n o.20-Afrika-rekord.

Vroeër, in April 2021, het De Klerk, toe nog ’n matriekleerling aan die Goudveld-Hoërskool in Welkom, die kollig gesteel toe sy ’n Suid-Afrikaanse rekord wat 15 jaar lank gestaan het in die gewigstoot vir o.20-vroue verbeter het. Die nasionale rekord van 16,95 m het sedert 2006 agter Simoné du Toit se naam gestaan. De Klerk het die rekord na 17,25 m verbeter toe sy aan die ASA se kampioenskap vir o.16- tot o.20-atlete in die Paarl deelgeneem het.

De Klerk studeer tans in Amerika. Sy het haar 2022-veldtog in Amerika geopen deur haar eie nasionale rekord in gewigstoot vir o.20-vroue te verbeter.

Sy het in haar eerste seisoen aan die Universiteit van Oregon deelgeneem en met 54,22 m in die diskusgooikompetisie op die Aztec-uitnodigingsbyeenkoms in San Diego, Kalifornië, gewen.

De Klerk, die wêreld- junior gewigstoot­kampioen, het die gewigstootkompetisie op die Aztec-uitnodigingsbyeenkoms gewen deur die gewig 17,04 m ver te laat trek.

You need to be Logged In to leave a comment.