Jessica Nel, Allanridge:
Nadat vullis slegs twee keer in meer as drie maande in Allanridge verwyder is, het dié klein maar dinamiese gemeenskap op 12 Maart hulpbronne bymekaargesit om Allanridge op te ruim.
Madelein van Staden was die koördineerder, terwyl Frans en Joe-ann van Schalkwyk van ’n plaaslike ingenieursfirma hul arbeiders en bakkies ingespan het om vullis te verwyder.
Vullissakke is deur die gemeenskap geborg en na ’n sentrale punt geneem. Daarvandaan is dit met ’n vragmotor, wat deur Jacques Theron, ’n boer in die omgewing, geborg is, na die asgate vervoer.
Vyf opgehoopte vragte is met die vragmotor weggery.
Die gemeenskap het ook aan die projek deelgeneem, en verskeie plaaslike sakemense het pryse geborg as beloning.
Wyksraadslid Clement Hanis het gewys dat hy nie bang is om sy hande vuil te maak nie.
Baie mense redeneer dat hulle vir ’n diens betaal en dus nie betrokke gaan raak nie. Hulle meen die munisipaliteit se verantwoordelikheid word weggeneem.
Die gemeenskap van Allanridge gaan nie in sak en as sit nie, maar goeie rentmeesterskap kweek en self die omgewing op gereelde basis opruim.
In Mattheus 25:21 is dit geskryf: “ . . .en sy heer sê vir hom: ‘Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel’.”