Ál minder van swembad oor

Dringende vrae oor Welkom se munisipale swembad en die haglike toestande daar is aan die Matjhabeng-raad gestel.


Dringende vrae oor Welkom se munisipale swembad en die haglike toestande daar is aan die Matjhabeng-raad gestel.

Raadslid Werner Jansen van Rensburg sê hy verwag op die volgende raads­vergadering antwoorde op die formele vrae wat hy op skrif gestel het.

Namens die inwoners van Welkom eis hy ’n duidelike plan van die munisipaliteit om die voortdurende agteruitgang by dié voormalige pragstuk van Welkom te verhinder en dit tot sy eertydse glorie te herstel.

“Deur die herlewing van die swembad te verseker, sal ons nie net ’n waardevolle gemeenskapsruimte herstel nie, maar ook geleenthede vir jong atlete skep en die veiligheid en lewensgehalte van inwoners verbeter,” sê Janse van Rensburg.

Die openbare swembad in Welkom het sedert die aanvang van die Covid-19-pandemie gesluit gebly.

“Ongelukkig het dit ’n gereelde teiken van vandalisme geword, wat tot herhaalde beskadiging van infrastruktuur gelei het. ’n Geliefde bymekaarkomplek vir die Matjhabeng-gemeenskap en ’n plek vir gesogte skoolswemgalas het nou in ’n misdaadbrandpunt ontaard.

“Daar is geen sekuriteit nie, en sedert die Covid-19-pandemie in 2020 ontstaan het, is onderhoudwerk nie hier uitgevoer nie,” sê hy.

Die munisipale swembad, wat in die vroeë 1970’s geopen is, was ’n geliefde plek waar gemeenskapslede van die snikhete somertemperature kon ontsnap.

Dit was ook die bymekaarkomplek vir talle skoolswemgalas, insluitend dié van omliggende dorpe, aangesien dit die enigste Olimpiese grootte swembad in die streek was.

Die geraamde herstelkoste van die swembad se infrastruktuur is R15 miljoen tot R20 miljoen.

“Die DA in Matjhabeng spreek sy diepe kommer en teleurstelling uit oor die munisipaliteit se versuim om hierdie kosbare gemeenskapshulpbron te beskerm en in stand te hou. Die mees kommerwekkende is die invloed op jong, talentvolle swemmers wat nou gedwing word om buitensporig te betaal vir toegang na private swembaddens om hul opleiding voort te sit,” sê Janse van Rensburg.

’n Inwoner van Bronville wat sy kommer telkens oor die vervalle swembad in Bronville uitspreek, het ook weer hul kwessie uitgelig.

“Ons kla al die afgelope drie jaar hieroor, tevergeefs. Ons as die gemeenskap is almal sonder opsies en ons kinders ly hierdeur,” sê die inwoner.

Die inwoner sê twee kinders het reeds hul lewe verloor nadat hulle in onveilige watergate geswem het en niks is gedoen om in hierdie saak te help nie.

“Hulle gebruik die rassistiese kaart van ons kleurlinge en al die dinge. Ek rig ’n ernstige pleidooi aan die owerhede, met die hoop dat die betrokke mense ons in hierdie saak kan bystaan.

“Help ons asseblief, en kry ons swembad in werking. Dit is opgeknap en als, maar dit werk nie. Die burgemeester luister nie na ons pleidooi nie,” sê hy.

Ons kla al die afgelope drie jaar hieroor, tevergeefs. Ons as die gemeenskap is almal sonder opsies en ons kinders ly hierdeur.

– Inwoner

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.