Hier verdoel Donavan Don ’n drie. Hy word deur Randy Fielies bygestaan. Foto: Marnus Prinsloo


Die o.21-Griffons het die seisoen op ’n hoë noot begin deur die o.21-Valke met 30 – 14 te klop.

Die twee spanne het mekaar Saterdag (20/08) die stryd aangesê.

Teen rustyd was die Perses met 16 – 0 voor.

Die heelagter Donovan Don het ’n eenmanvertoning soos min gelewer. Hy het 25 van sy span se punte aangeteken, met twee drieë, drie strafskoppe en drie doelskoppe.

Bennie Human het die ander drie gedruk. Alistair O’Brien, Wian Muller, Calla Pienaar en Randy Fillies was van die ander uitblinkers op die veld.

Tydens die voorwedstryde het die Griffon-hoërskole ’n seldsame prestasie behaal toe al dié spanne teen die Griekwaskole gewen het. Hiermee het hulle deurgedring na die eindrondte van die Kovsieliga, Saterdag (27/08) op Shimlapark in Bloemfontein.

Die Hoërskool Voortrekker se o.15A-span het sy wedstryd teen die Hoërskool Diamantveld met 19 – 8 gewen, waarna die ander Griffon-skole dié voorbeeld gevolg het.

Die Hoërskool Vrede het die Wildeklawer-akademie met 35 – 10 geklop. Theo van Zyl en Paul du Plessis was prominent in dié sege.

Bothaville het die Hoërskool Douglas deeglik afgeransel met 50 – 5. Alex du Pisani het geskitter en sy twee solo drieë in die eerste helfte het die wind uit die besoekers se seile geneem. Rehan Jordaan, Joshua Scholtz, André Eloff, Wian de Wet, Adolf Jonker en Johan Swanepoel was van die Botha­ville-spelers wat uitgeblink het.

Die Hoërskool Trio van Kroonstad het bloed gesweet in sy wedstryd teen Diamantveld. Die span moes ná rustyd ’n agterstand van 0 – 17 uitwis, maar het, gedeeltelik danksy ’n doel in die doodsnikke van die wedstryd, ’n oorwinning van 21 – 17 aangeteken.

Hoopstad teen Postmasburg (51 – 7) en Wilgerivier teen De Aar (26 – 5) se wedstryde het die Griffon-skole se oortuigende oorwinnings verseël.

  • Die o.21-Griffons se volgende wedstryd is Saterdag (27/08) teen die OP in die HP Pelatona-stadion in Welkom. – Chris Nel

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Untitled post 265989
    Vista E-edition 10 July 2025