Antoinette Schoeman, Riebeeckstad:
Dit is met ’n gees van hartseer en woede dat ek hierdie brief skryf.
Matjhabeng se bestuur en ons eerste burger het geen finesse en leiereienskappe nie. Ek het vandag my geliefde ma se graf besoek en was vreeslik geskok toe ek sien in watter toestand die Welkom-begrafplaas is.
Beesmis lê verspreid en ek het gesien hoe beeste tussen die grafte wei. Van die grafstene is afgebreek en oral lê papiere en gemors. Toe ons terug na ons woning ry besluit ons om by ons geliefde Alma-kwekery ’n draai te maak. Wat ’n skok.
Beeste loop in die middel van die pad en in die veld. Ons was amper in ’n noodlottige ongeluk. Ek het dit dadelik by die polisie aangemeld, maar niemand het gehoor gegee nie.
Die beeswagter het aan my gesê dat die beeste aan ‘skatryk manne’ behoort en hy is gesê dat die beeste daar moet wei.
Toe ons uiteindelik terugkeer na Riebeeckstad toe loop daar ook beeste, ander vee en verwaarloosde honde in die pad.
Straatligte – die enkeles wat werk – brand 24/7. Ons is in ’n kragkrisis, maar dit wil voorkom of die munisipale bestuur nie omgee oor hierdie krisis nie. Asseblief, meneer die eerste burger, neem verantwoordelikheid vir dit wat aan jou toevertrou is.
’n Leier is iemand met ’n magneet in sy hart en ’n kompas in sy kop. Nelson Mandela het gesê: “Ek kry my inspirasie van die kollektiewe leierskap waarvan ek deel is. Ek is ’n produk van daardie leierskap. Dit gee ’n mens die inspirasie om enige probleme aan te pak, solank ’n mens omring word deur mense wat jou ondersteun.”