In Maree- en Strauss-strate, Riebeeckstad, loop die water al vir jare in die straat af. Foto: Antoinette Schoeman


Antoinette Schoeman, Riebeeckstad:

Sjoe, hoe lank moet ons nou nog smeek om die slaggate en waterlekplekke in Riebeeckstad te laat herstel?

Ek stap elke dag ’n paar kilometers. Dit is skokkend om te sien hoe Riebeeckstad agteruitgaan. Triljoene liters water gaan verlore. Omtrent in elke straat stroom skoon water, en soms ook rioolwater, af.

Een massiewe lekkasie waar die water uitborrel, is op die hoek van Mozart- en Kennaughstraat.

Dit is eintlik hartverskeurend om te sien hoe die water vermors word.

Op die hoek van Maree- en Strauss-straat loop die water al jare lank in die straat af. Dit is al vele male aangemeld, maar die bestuur van Matjhabeng steur hulle nie aan ons klagtes nie.

Die slaggate in Mozartstraat is ’n gevaar. Motors swaai links en regs uit vir die gate en peil op voetgangers af. Hier loop baie skoolkinders in die middel van die pad en hulle het nie ’n saak met aankomende voertuie nie.

Waar is ons verkeersbeamptes? Iemand sal die verkeer hier moet kom reguleer.

Ek is eerlikwaar só teleurgesteld in die bestuur van Matjhabeng. Gedurig moet ons hoor daar is geen geld beskikbaar vir instandhoudingswerk nie.

Wat my verstand te bowe gaan, is die feit dat duur ,eksklusiewe voertuie aangekoop word. Paleise skiet soos sampioene op. Armoede moet dringend beveg word, maar oorvol kostrollies en duur klerasie word aangekoop.

Dit terwyl klein kindertjies en selfs behoeftige bejaardes in vullissakke rondkrap vir iets om te eet. Dit is ’n skreiende skande.

You need to be Logged In to leave a comment.