Die skielike afsterwe van die adjunkhoof van die Voluit Primêre Skool in Merriesperuit, Virginia, het ‘n gemeenskap in rou gedompel.
Una van den Berg is op Saterdagmiddag 14 Junie in ‘n noodlottige ongeluk by die Highlands-kruising oorlede. Boodskappe van vertroosting en medelye het van oral ingestroom. Maandagmiddag is ‘n kranslegging by die skool gehou.
‘n Bekende inwoner van Virginia, Cindy-Ann Oosthuizen, skyf op Facebook: “Vandag is my hart swaar.
“Una van den Berg het tragies van ons af weggegaan, en die leegte wat sy los, is onmeetbaar. Ek gaan haar ongelooflik mis. Haar lag, haar raad, haar teenwoordigheid. Hierdie wêreld voel vandag net anders – stiller sonder haar. Rus sag, Tannie Una. Jy was vir my baie dierbaar.”
In nog ‘n Facebook-inskrywing sê Elzané Jordaan dat haar hart baie seer is: “Ek het geen woorde nie. Juffrou Una ek het so baie by juffrou geleer.
“Dankie vir al juffrou se ontmeetbare liefde vir my drie dogtertjies, ons Vollie familie en elke leerder wat elke dag in juffrou se teenwoordigheid was. Lieka gaan haar ouma krappie se grappies, en drukkies so baie mis.
“Ons almal gaan en doen reeds. Juffrou se lag was altyd aansteeklik, vinnige antwoorde en raad sal ons in ons harte koester. 14 Junie 2025 sal ‘n dag wees wat ons nooit sal vergeet nie.”
Larise Swanepoel skryf dit voel onwerklik: “Liefste juffrou Una, ek het nie woorde nie. Ons gaan juffrou baie mis.
“Dankie vir alles wat juffrou gedoen het vir mamma en almal by Voluit.
“Juffrou het almal gedra, almal lief gehad.
“Dankie vir die mentor wat juffrou was vir Brandon. Ons is lief vir juffrou.
“Rus in vrede.”
Ook skole so ver soos Hennenman en Kroonstad het ook hulle medelye getoon.
Van den Berg, ‘n gr.6-onderwyser, het haar in 2018 by dié skool aangesluit toe die Laerskool Merriespruit en Virginia-Volkskool saamgesmelt het. Van der Berg was voor dit vir twintig jaar by die Virginia Volkskool betrokke.
Die skoolhoof, J.C. Brummer, bevestig sy gaan gemis word en dat haar skielike afsterwe ‘n groot leemte laat.
Die lewensviering van Van der Berg vind plaas Donderdag 26 Junie om 11:00 vanuit die NG Moedergemeente Virginia.


You must be logged in to post a comment.