AfriForum se regrukplan vir Bothaville onderweg

Die AfriForum Bothaville-tak het ’n strafregtelike klagte teen Scotch Lehloenya, die munisipale bestuurder van die Nala-munisipaliteit, by die polisie in Bothaville ingedien.


Die AfriForum Bothaville-tak het ’n strafregtelike klagte teen Scotch Lehloenya, die munisipale bestuurder van die Nala-munisipaliteit, by die polisie in Bothaville ingedien.

Die klag is op 14 September gemaak, en gaan oor die riool wat in die Valsrivier ingestort word.

’n Pomp het uitgebrand, wat veroorsaak dat die riool nie na die rioolaanleg gepomp kan word nie. Die water het toe reeds vir twee weke by ’n mangat uitgeloop en direk by die Valsrivier ingevloei.

Die strafregtelike klagte volg nadat die plaaslike AfriForum-tak die situasie herhaaldelik onder die aandag van die munisipaliteit se bestuur gebring het, waarna die pomp steeds nie herstel is nie.

Op 15 September is ’n kontrakteur aangestel en die pomp is uiteindelik herstel. Daar is egter nog nie aandag geskenk aan die sewe rioolpunte in Kgotsong, waar die riool ook by die rivier invloei, nie.

“Die feit dat die munisipaliteit voete sleep om die pomp te herstel wat veroorsaak het dat van die riool by die Valsrivier invloei, is krimineel van aard en daarom het ons ’n klagte gelê. Die munisipaliteit versuim om hul pligte na te kom en ons sal dit nie langer duld nie. Daar moet voorsiening gemaak word vir noodpompe of ’n kragopwekker terwyl die beveiliging van die pompe ook ’n groot bron van kommer is,” sê Willie Prinsloo, voorsitter van die Bothaville-tak.

“Ek is dankbaar dat die tak standpunt inneem teen die besoedeling van die rivier. Die munisipaliteit sal beslis tot verantwoording geroep word. Ons is dankbaar dat daardie lek nou herstel is, maar ons hou steeds dop of daar iets omtrent die lekke in Kgotsong gedoen word en die klagte is dus nie teruggetrek nie,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.