Die AfriForum-tak in Bothaville het saam met boere in die omgewing die slaggate op die R504 herstel.
Die slaggate op hierdie pad is vanaf die vierrigtingstopstraat by Bothaville in die rigting van Leeudoringstad tot by Brug 14 herstel.
Die R504 is ’n pad wat swaar verkeer dra, veral in oestyd, en die owerhede het nie gereageer op versoeke om die slaggate te herstel nie.
Dit het Martin Jordaan, ’n plaaslike boer, genoop om AfriForum te kontak en geld by die boere in te samel vir die herstel van die pad. Daar is ook met Venmini, ’n kontrakteur van Potchefstroom, wat baie herstelwerk aan paaie doen om slaggate vir AfriForum reg te maak, gere?l dat hulle die herstelwerk sal doen.
Op 21 Julie het die herstelwerk begin en vir vier dae aan die stuk pad gewerk.
Die boeregemeenskap het fluks bygedra en altesaam 96 m² se slaggate is met 10 ton teer herstel. Die AfriForum-tak in Bothaville het ’n bydrae tot hierdie poging gemaak en boere wat nog bydraes wil maak kan gerus met Jordaan skakel.
“Hoewel hierdie #OnsDorp-projek nie in die dorp self gedoen is nie, baat elke inwoner wat ooit van hierdie pad gebruik maak by die poging.
Ek is dankbaar dat die gemeenskap tot die besef gekom het dat selfdoen beter is as niksdoen.
Die bydrae wat elke boer gemaak het, is gering in vergelyking met ’n band wat beskadig word weens ’n slaggat. Baie dankie aan elke lid van die gemeenskap wat die span bederf het met kos en drinkgoed. Saam is ons sterker,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.